Smithathlons-atlete blink uit by SA Skole-atletiekkampioenskap
Lede van Smithathlons Atletiekklub het uitstekend gevaar tydens die SA Skole-atletiekkampioenskap in Pretoria. Mikayla Smit het ’n bronsmedalje in die o17 200 m gewen met ’n persoonlike beste tyd, terwyl Sibusiso Ndiko deel was van Gauteng se wen o17-aflosspan.
Lede van die bekende Smithathlons-atletiekklub van Carletonville het die dorp en provinsie se naam hoog gehou. Volgens die klub se afrigter, Annetjie Smit, het twee klublede, Sibusiso Ndiko en Mikayla Smit, verlede week aan die SA skole-atletiekkampioenskap deelgeneem.
Dié byeenkoms is van 29 April tot 2 Mei by die Pilditch-stadion in Pretoria gehou. Smit het uitstekend tydens die o17 200m-item gevaar.
Sy het haar uitdun gewen in ‘n persoonlike beste tyd van 24:07 sekondes. Dit was ook haar beste tyd dié seisoen. Smit het Saterdag tydens die finaal ‘n brons medalje ingepalm.
“Omdat sy in ‘n hoër ouderdom deelgeneem het maak dit haar die derde vinnigste atleet in die o17-kategorie. Dit maak haar die vinnigste dogtersatleet vir o16’s in Suid-Afrika. Volgende jaar gaan sy in haar regte ouderdomsgroep deelneem,” sê Annetjie.
“Dit was ‘n harde kompetisie,” sê Annetjie.
Hoewel Smit tot nou toe ‘n leerder van Hoërskool Carletonville was, skuif sy nou na Hoërskool Rustenburg toe. Intussen was Ndiko deel van die Gauteng seuns o17-aflosspan wat hulle wedloop gewen het. Hy het ook die semi-finaal van die o17 200m deurgedring.
“Ek is ongelooflik trots op albei hierdie atlete,” sê Annetjie.



