NewsNewsSportSport

Valskermspring bly sy passie

Vir baie inwoners is Eugene (Pottie) Potgieter al vir jare die plaaslike gesig van die Johannesburg Skydiving Club (JSC) net buite Carletonville.

Potgieter het ook onlangs ‘n nuwe persoonlike mylpaal in valskermspring bereik toe hy onlangs sy 4 000ste valskermsprong gedoen het.

“Pottie”, soos die meeste mense hom ken, vertel hy het in 2003 sy eerste sprong gedoen ná hy en ‘n groep diepsee-hengel vriende daaroor gepraat het dat hulle dit dalk wou probeer. Op die ou einde was Pottie egter die enigste lid van die groep wat die woord by daad gevoeg het en die volgende dag by die JSC opgedaag het. Sedert dié tyd het hy talle van die hoogste prestasies bereik wat hy as valskermspringer kán behaal. Hy was onder meer deel van twee Suid-Afrikaanse rekords en een wêreldrekord formasiespronge. Hy dien ook al vir 19 jaar in die klub se komitee, die meeste van die tyd as voorsitter.

“Nou is dit egter my grootste passie om my energie en ondervinding in die sport terug te gee,” sê hy. Potgieter doen dít deur tandem-spronge te doen waar hy ander mense saam met hom laat spring en hulle op dié wyse ook die sport se adrenalien laat voel. Hy het al sowat 550 tandemspronge gedoen.

Hoewel baie mense reken dat hulle eerder met hul voete op Moeder Aarde wil bly omdat valskermspring te gevaarlik lyk, het Pottie ‘n ander uitkyk.

“Dit is die enigste sport waar jy outomaties altyd ‘n tweede kans kry wanneer iets dalk sou skeefloop. Almal spring met ‘n noodvalskerm ook wat jy kan oopmaak indien daar om een of ander rede ‘n probleem met jou valskerm kan wees. Die kans dat só iets kan gebeur is egter baie klein omdat almal wat ons valskerms pak uitstekend opgelei is en hul werk onder baie streng toesig doen. Waar het jy egter gesien dat iemand op ‘n motorfiets ‘n tweede kans kry wanneer hy val? Ek weet “skydiving” is nie vir almal nie, maar die gevaarlikste deel jou sprong is die ry na en van die klub,” sê hy.

Hy sê dat indien mens na statistieke kyk, is valskermspring, wat deur die Burgerlike Lugvaartowerheid beheer word en ‘n reëlboek van oor die 400 bladsye het waarvolgens die sport beheer word, een van die veiligste sportsoorte wat daar is.

En wanneer reken “Pottie” gaan hy eendag ophou met valskermspring?

“Eers wanneer ek so oud is dat ek vergeet om my valskerm oop te maak,” vertel hy laggend.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button