Fochville se Annemie Brandon gekies vir senior Saddle Seat Proteaspan
Die sterruiter van Fochville, Annemie Brandon, het ’n groot mylpaal bereik nadat sy by die senior driegang Saddle Seat Proteaspan ingesluit is.
Die ster ruiter van Fochville, Annemie Brandon, het die afgelope week een van die hoogste sportprestasies behaal: sy is gekies om Suid-Afrika as deel van ‘n seniorspan op die internasionale verhoog te verteenwoordig.
Volgens Annemie se ma, Anita, is die jong ruiter na afloop van proewe by die Afri-Dome in Parys op 31 Januarie by die senior driegang Saddle Seat Proteaspan ingesluit. Sy is een van slegs sewe ruiters landwyd wat dié eer te beurt geval het.
Die span sal in Junie vanjaar na die Verenigde State vertrek om die Suid-Afrikaanse vlag hoog te hou tydens ‘n gesogte internasionale kompetisie.
Annemie, wat nog net 16 jaar oud is, het reeds op die ouderdom van sewe die eerste keer in die saal geklim en het sedertdien nog nooit teruggekyk nie.
“Ons probeer elke naweek gaan oefen omdat die perde in Heidelberg is,” sê Anita.
Terwyl haar afrigter, Dale van Rensburg, toesien dat die perde in topkondisie bly vir kompetisies, fokus Annemie daarop om haar eie fiksheid en vaardighede op koers te hou.



