Fochville-atlete blink uit by Gauteng Atletiekbyeenkoms in Germiston
Hul medaljes en sterk vertonings het gehelp dat Gauteng-Wes algeheel tweede eindig, met verskeie van die atlete wat nou deurdring na die nasionale skole-atletiekkampioenskappe.
Atlete van Hoërskool Fochville wat die afgelope week as deel van die D2-span wat aan die Gauteng Atletiekbyeenkoms in Germiston deelgeneem het, het hulle skool en die dorp se naam hoog gehou.
Hul pretsies het help verseker dat Gauteng-Wes algeheel tweede in die provinsie geëindig het.
Dié sewe atlete, Megan Smith, Jaydean Lourens, Mieke Gerber, Jané Nel, Lethabo Pehela, Hayden Johnstone en Dewald Prinsloo het behoorlik die vrugte van ure se oefening gepluk.
“Byeenkoms na byeenkoms het hulle die een medalje en of trofee na die ander verower en seker gemaak dat hulle vir geen ander atleet terugstaan nie,” sê die skool se woordvoerder, Elsabé de Mesquita.
Onder die individuele uitblinkers was Prinsloo, wat ‘n goue medalje in die seuns o19-diskus verower het, asook ‘n brons medalje vir gewigstoot. Die aflosspanne het ook goud opgelewer. Gerber en Pehela was deel van die o15-aflosspan wat gewen het.

Smith het goud ingepalm saam met die o/17-aflosspan. Hierdie atlete dring nou deur na die nasionale skole atletiekkampioenskappe.
Al sewe atlete is die produk van ure se oefen onder die ervare hand van Skrik Botha. “Die mooiste eienskap wat elkeen van hierdie atlete uitstraal is hul nederigheid teenoor al die prestasies wat hulle alreeds bereik het,” sê De Mesquita


