Losberg Gymnastics gimnaste werk deur die vakansie en word beloon by prysuitdeling
Gimnaste van die Losberg Gymnastics gimnastiekklub het tot kort voor Kersfees intensief geoefen om voor te berei vir die nuwe Gimnastiek Suid Afrika-sillabus.
Gimnaste van die Losberg Gymnastics gimnastiekklub was aan die gang tot net voor die feestyd en het ook hul prysuitdeling gehou.
Volgens die klub se eienaar en hoofafrigter, JJ Strydom, het die klublede tot 20 Desember verlede jaar, toe die meeste ander inwoners reeds aan die rus was, bly oefen.
“Ons het bly oefen om al die gimnaste ‘n voorsprong te gee vir 2026 omdat die nuwe sillabus van Gimnastiek Suid Afrika verander het. Die gimnaste het elke dag van Maandag tot Saterdag geoefen terwyl hulle maatjies lekker vakansie gehou het. Dit wys my net daar is lede wat hulle kant 100% bring en wil graag goed doen met die sport,” sê Strydom.
Hy voeg by dat gimnaste van Carletonville spesiaal na Fochville gery het om in die vakansie te oefen.
Intussen het die klub ook einde verlede jaar hul prysuitdeling gehou.
Dylan Botha is as die algeheel beste seuns gimnas van die jaar aangewys terwyl Tlotlang Mokhahle die beste meisies gimnas van die jaar was. Jane Victor, Cloe van Niekerk en Kiano Rossouw het toekennings vir die beste uithouvermoë gekry terwyl die klub se sewe gimnaste wat
verlede jaar vir die SAs kwalifiseer het, Kiano Rossouw, Dylan Botha, Derian Lamprecht, Anila Nortje, Charmaine Joubert, Caylee Menezes en Tlotlang Mokhahle ook verdere toekennings ontvang het. Verskeie ander gimnaste is ook tydens die prysuitdeling vir hul harde werk beloon. Die klub begin weer op 12 Januarie oefen.



