Scorpions-rugbyklub behaal gemengde welslae teen Harlequins
Die o19’s en tweede span het met oorwinnings gespog, terwyl die o21’s en eerste span teen die Pretoria-klub vasgeval het.
Spanne van die Scorpions-rugbyklub het verlede naweek op die veld gedraf teen opponente van die Harlequins van Pretoria.
Volgens die klub se bestuurder, Joe Bosch, het hul spanne Saterdag op Hoërskool Wonderfontein se velde uitgedraf, waar die Scorpions uiteindelik gemengde welslae behaal het.
Die o19-span het koning gekraai en Harlequins met ‘n telling van 17-5 in die stof laat byt. Die o21’s moes die knie buig teen Harlequins met ‘n telling van 46-7.
Intussen het die tweede span ‘n naelbyt-stryd teen Harlequins met 15-12 gewen. Die eerste span moes ongelukkig die aftog teen die besoekers blaas met ‘n telling van 45-5.
“Ons oefen steeds Dinsdae en Donderdae by die Gert van Rensburg-stadion in Fochville en alle belangstellendes is welkom om aan te sluit,” sê Bosch.
Vir meer inligting skakel met Joe Bosch by 071 489 1053.



