Oud-Fochviller Talita Brits skitter as finalis by internasionale Sony Future Filmmaker Awards
Die 24-jarige filmmaker verteenwoordig Suid-Afrika in Los Angeles nadat haar kortfilm Ongeluk as een van die wêreld se beste studenteproduksies aangewys is.
‘n Oud-leerling van Hoërskool Fochville, Talita Brits, is tans in Los Angeles in die VSA na sy as finalis in ‘n internasionale filmkompetisie gekies is.
Talita (24) is reeds van 6 Junie af in Los Angeles na sy as ‘n finalis in die 2026 Sony Future Filmmaker Awards gekies is. Dit is ‘n internasionale kompetisie wat deur die mediareus Sony aangebied word.
Talitha se kortfilm, Ongeluk, is gekies as een van die top films in die studente kategorie.
“My film het oorspronklik begin as ‘n universiteits projek. Dit vertel die verhaal van Melanie, ‘n jong vrou wat in ‘n motorongeluk beland en met haar skuld en verlies en die nagevolge van haar besluite moet saamleef,” sê Talita.
“Dit is ‘n ongelooflike voorreg om Suid-Afrika hier te verteenwoordig. Hier is ongelooflike talentvolle filmmakers van regoor die wêreld. Om hulle te leer ken en met hulle te network is ‘n ongelooflike ervaring. Die afgelope paar dae het ons werkswinkels bygewoon en gesprekke gehad met directors, producers en editors en almal in die industrie. Dis eye-opening om die inligting te kry van mense wat klaar in die industrie is.
“Ek is so dankbaar vir my ouers, my familie en my land se ondersteuning wat ek sover gekry het. Ek kan nie oorvertel hoeveel mense net vir my bly is dat hierdie geleetheid oor my pad gekom het nie,” het Talita kort van tevore uit Los Angeles vertel.
Die toekennings vind vanaand (môre oggend in Suid-Afrika) plaas.
Baie sterkte Talita!



