Scorpions se eerste en tweede span vier oorwinnings teen Alexandra Wolves
Die klub se senior spanne behaal indrukwekkende oorwinnings, terwyl nuwe geborgde rugbytruie vir ekstra rede tot feesviering sorg.
Die Scorpions rugbyklub se spanne het die verlede naweek gemengde welslae behaal, maar daar was groot rede tot viering nadat twee van die klub se spanne koning gekraai het teen die Alexandra Wolves.
Volgens die klub se bestuurder, Joe Bosch, het die eerste span ‘n opwindende kragmeting agter die rug en Alexandra met ‘n telling van 40-33 in die stof laat byt. Die tweede span het ook met ‘n telling van 28-0 gewen, nadat die opponent se span glad nie opgedaag het vir die wedstryd nie.
Dit was egter nie net goeie nuus vir die klub nie. Die Scorpions se jonger manne moes hard veg, maar die o21- en o19-spanne moes ongelukkig albei die knie buig teen hul opponente met tellings van onderskeidelik 0-28 en 0-36.
Buiten die aksie op die veld, was daar ook groot opgewondenheid agter die skerms toe die Scorpions se eerste span vir die eerste keer geborgde nuwe rugbytruie ontvang het. Bosch het haar diepe waardering vir hierdie hupstoot uitgespreek.
“Ons is baie dankbaar want ons ouens het nog altyd met die Titans se truie gespeel. Ons is baie dankbaar en ons spelers het hul harte uitgespeel.”



