Al Fochville se dorps-rugbyspanne gaan vanjaar onder dié vaandel op die veld draf.
Volgens die klub se hoofafrigter, Charlie van die Westhuizen, het hy die akademie sowat agt jaar gelede begin om spelers van regoor die Wes-Rand die kans te gee om op internasionale vlak aan sewes rugby deel te neem.
“Ons het al in Mauritius, Dallas in die VSA en Dubai deelgeneem met groot sukses,” sê hy.
Van der Westhuizen het verlede jaar as hoofafrigter by die dorp se rugbyspan, Fochville Rugby Club, betrokke geraak, en verseker dat dié span, wat net vier jaar gelede deur Llewellyn Ebershon heropen is, weer in die Luiperds Rugby Unie se Neser A-finaal kon speel.
Dié sukses het Van der Westhuizen en ander bestuurslede motiveer om die dorpsklub met die juniorklub te laat saamsmelt om Fochville se spelers van ‘n jong ouderdom af vir die spel te ontwikkel.
“Ek het nog altyd die begeerte gehad om ons seuns van Merafong die geleentheid te gee om op skoolvlak klubrugby te speel en is al vir ‘n geruime tyd by skolerugby betrokke. Ek is ook reeds die afgelope twee jaar deel van die Leeus se o.16 Ontwikkeling Presidentspan,” sê hy.
Hoewel die FRC verlede jaar vir die Luiperds gespeel het, het die Leeus-unie die Rams uitgenooi om ‘n seniorspan by hulle in te skryf.
“Die FRC het in dié stadium vreeslik baie na wedstryde in Noordwes gery, na dorpe so ver as Vryburg, Zeerust en Ligtenburg. Die klub kan dit nie meer bekostig en dus het ons almal ‘n eenparige besluit geneem om eerder na die Leeus-streek te skuif,” sê Van der Westhuizen.
Dié stap gaan nou verseker dat die verste wedstryd waarna spelers vanjaar toe sal moet ry, 80 km in plaas van 450 km weg is.
Die seniorklub speel reeds op 6 April hul eerste tuiswedstryd in die Leeus se Senior Grand Challenge-liga. Dié liga sal tot in Augustus duur.
Intussen sal die juniorklub die volgende drie maande twee of drie keer per maand op Vrydae oefen. Die eerste datum waarop hulle gaan oefen, is op 5 April.
Dié klub het vier takke, in Fochville, Carletonville, Glenharvie en Potchefstroom wat elkeen ‘n afsonderlike voorsitter sal hê.
Dié takke sal van 6 April tot 30 Julie afsonderlik oefen, waarna alle oefening na die finale rondte proewe in Fochville sal beweeg na die finale rondte proewe.
“Ons gaan dan sit met ‘n span wat uit spelers van al die omliggende laer- en hoërskole saamgestel word en dan ‘n lekker gekombineerde Merafong-span sal uitmaak. Ons wil dan hier uit die Verre Wes-Rand-streek die 18 klubs in stad gaan aandurf,” sê hy.
Dit sal die Rams-juniorspelers in staat stel om ook vir o.12 tot o.18 ITP Leeus-spanne, wat provinsiale kleure kan verwerf, gekies te word. Soos wat dié jongelinge ouer word, kan hulle ook proewe vir die Leeus se amateurspan wat uit die klubs gekies word, bywoon.
“Ons wil dus in samewerking met al die skole en die gemeenskap rugby in ons area ontwikkel en groei,” sê Van der Westhuizen. As deel van die plan het die klub hul klubhuis by hul basis by die Gert van Rensburg-stadion reeds verlede jaar oorgedoen en opgeknap.
Van Der Westhuizen en twee ander rugby-sterre van die Fochville-omgewing, André en Roelof Smith, het ook ‘n nuwe maatskappy, Ironclad Sport Development, gestig.




