’n Mengsel van baie harde werk en talent is die geheim van dié speler, Llewellyn Ellis.
Hierdie belowende 20-jarige is stelselmatig besig om oë te laat rek. Veral nadat Ellis vier drieë in die Luiperds Reserweliga-eindstryd teen Potch Tigers Defence gedruk het om sy span ’n 37-24 sege te besorg.
Ellis beskik oor hope spoed en het ’n slim rugbybrein waarmee hy die veld betree.
Hy hardloop goeie lyne en weet waar om sy spoed op die beste manier moontlik te gebruik – iets wat hy beslis vir die Pampoenboere begin wys nadat die afrigter, Gerald McPherson, hom die afgelope twee maande onder sy vlerk geneem het.
“Coach Gerald het my raakgesien toe ek vroeër die jaar vir Potch Dorp Rugbyklub gespeel het.
Hy het my gevra of ek vir die Pampoenboere wil kom speel en ek het toe ingestem,” vertel Ellis, wat sy skoolloopbaan aan Hoërskool Carletonville voltooi het.
“My tyd hier by die Pampoenboere is sover fantasties en daardie eindstryd was baie opwindend. Om teen jou vriende te kan speel en as ’n span so goed te kon saamspeel, was die beste deel.”
Ellis het al van jongs af sy talent en honger vir drieë op skoolvlak bewys waar hy as losskakel, die o.16 en o.17 Leeus President-span gehaal het. Hy het ook die Leeus se o.18 Cravenweek Akademiespan gehaal.
“Ek het ook in ’n stadium die geleentheid gehad om in Engeland op o.17-vlak te speel, maar dit het toe nie gerealiseer nie. Tog glo ek dat ek eendag weer die kans sal kry om oorsee te speel,” vertel Ellis opgewonde, wat ook by die Rams Rugbyakademie in Fochville is.
Ellis kyk op na die Springbok en Toulouse-agterspeler, Cheslin Kolbe, en glo dat hy ook in sy held se voetspore kan volg.
“Ek wil ’n sukses van rugby maak en professioneel speel. Ek sien ’n toekoms in rugby en ek gaan aanhou hard werk, want harde werk sal altyd talent klop,” het hy gesê.




