Dit is noodsaaklik om na jou gehoor om te sien
Tydens die Covid-19 pandemie raak ons al hoe meer bewus oor hoe belangrik ‘n mens se gehoor in effektiewe kommunikasie is.

Die dra van maskers maak dit veral vir mense met gehoorprobleme moeiliker om te kommunikeer en veroorsaak dus ekstra frustrasie
Die HearCare-groep oudioloë werk al sedert 1982 aan die Wesrand en in die Noordwes Provinsie om kliënte met gehoorprobleme en gehoorapparate van hulp te wees.
Dr. Elize de Koker het die eerste Gehoorsentrum in 1982 in Krugersdorp geopen en in 1996 na Randfontein en Carletonville uitgebrei. Daar is ook takke in Brits en Rustenburg. Die toegewyde en ervare oudioloë besoek aftreeoorde, hospitale en doen ook tuisbesoeke. Dit is veral in die pandemie-tyd belangrik dat kliënte in die veiligheid van hulle eie motors diens ontvang en toebehore vir hulle gehoorapparate kan ontvang. Weens die feit dat die Wesrand soveel mynbedrywighede het, is die oudioloë ook goed onderlê om aan die riglyne en wetgewing vir mynwerkers te voldoen.
Dit neem gewoonlik ‘n hele paar jaar vir ‘n persoon om te erken en te besef dat sy of haar gehoor afgeneem het. Daar bestaan verskeie redes waarom ‘n mens na jou gehoorvermoë moet omsien en gehoorprobleme moet verbeter.
Indien ‘n gehoorprobleem nie medies verbeter kan word nie, is die dra van gehoorapparate die oplossing om ‘n positiewe uitwerking op die kwaliteit van ‘n mens se lewe te hê.
Vyf voordele wat die dra van ‘n gehoorapparaat inhou:
1. Dit verbeter jou geestelike gesondheid
Dit is geen geheim dat ‘n gehoorverlies frustrerend kan wees nie. Dit beïnvloed verskeie aspekte van ons lewe en ons sukkel om daarmee saam te leef. ‘n Gehoorverlies (gering of ernstig) verhoog ‘n persoon se risiko om aan angstigheid en selfs depressie te ly. Die gedagte dat jy nie alles en almal rondom jou kan hoor nie, is soms vreesaanjaend. Dit is waar gehoorapparate kan help. Dit help om die wêreld om jou te hoor, wat weer stres, angstigheid en isolasie verhoed. Die verbeterde gehoor lei tot beter lewenskwaliteit.
2. Dit verlaag die risiko van kognitiewe afname en demensie
Ons gehoor speel ‘n groot rol in ons brein se gesondheid en funksionaliteit. Daar is egter goeie nuus. Studies het bewys dat die dra van gehoorapparate die risiko van kognitiewe afname en demensie dramaties verminder.
3. Verlaagde risiko om te val
Balansprobleme en duiseligheid word al vir ‘n geruime tyd aan ons ore gekoppel. Het jy geweet dat ‘n gehoorverlies jou balans so kan affekteer dat dit jou risiko om “onnodig” te val, dramaties verhoog? ‘n Studie deur die Washington School of Medicine in St Louis het bewys dat die dra van gehoorapparate jou balans kan verbeter en dus jou risiko om te val, verminder.
4. Verbeterde sosiale lewe
Met die verbetering van gehoor en die vermoë om die wêreld om jou te kan hoor en verstaan, kom die vrymoedigheid om deel te neem aan sosiale interaksie. Om met familie en vriende te kuier is nie pret indien jy konstant sukkel om die gesprek te volg nie. Met die hulp van gehoorapparate is dit nou moontlik om aktief deel te wees van alles om jou en om dit te GENIET!
5. Verminderde simptome van tinnitus
Ervaar jy die sogenaamde “sonbesies” wat in jou ore raas? Tinnitus beïnvloed een uit elke vyf mense. Deur die klanke om jou met behulp van gehoorapparate te versterk, kan die “sonbesies” geëlimineer word, omdat jou brein nou op ander, normale klanke kan konsentreer.
Indien jy bekommerd is oor jou gehoor, besoek so gou as moontlik ‘n oudioloog wat ‘n volledige gehoortoets kan doen. Hoe vroeër daar bepaal word of daar wel ‘n gehoorverlies is, hoe vroeër kan jy gehelp word om al die bogenoemde faktore te voorkom. Jou gehoor is net so belangrik soos jou sig en algemene gesondheid. Moenie uitstel nie.
Jy kan jou naaste oudioloog by HearCare in Carletonville vind wat ‘n volledige diagnostiese gehoortoets kan doen en jou sal bystaan met jou besluite na afloop van die toets.
Kontak hulle by die Fountain Private Hospital vir ‘n afspraak by (018) 788 1275.




