Local newsNews

‘Die Here het ons rustig gemaak’

Baie lede van die gemeenskap het gehelp om na die rowers en Gerda, wat steeds op die plaas was, te soek.

Mnr. Gustav Janse van Rensburg (65) en sy vrou, Gerda, was op Sondag 14 April omstreeks 15:00 op hul wildsplaas Skilderkrans naby Doornfontein besig om hul swartwitpense te voer. Die plaas is in Varkensaagte, tussen Doornfontein en die vierrigting stop waar ‘n mens van die R501-pad na Deelkraal óf Welverdiend kan afdraai, geleë.

Gustav is gou na die badkamer in die plaashuis toe iemand hom van agter af oor die kop slaan. Toe hy bykom, het hy in die loop van ‘n pistool vasgekyk. Ten minste drie mans in klapmusse het hom gegryp en geld geeïs. Hulle het ook vir Gerda elders op die plaas aangehou.

Die rowers het Gustav en Gerda hierna van hul selfone sowel as hul trouringe beroof en hul ook aangerand.

“My ring was vandat ons op die 5de Februarie 1983 getroud is, nog nooit van my vinger af nie. Toe ek dit nie vinnig genoeg kon afkry nie het hulle my gedeig dat hulle my vinger gaan afskiet. Ek kon dit toe darem loskry,” het Gustav Maandag vertel.

Al wat Gustav tydens die rooftog van Gerda gehoor het, is toe sy geroep het dat die rowers haar seermak. Dít het hom laat dink dat hulle haar gyselaar hou en hy het as gevolg hiervan vir die rowers aanwysings tot by hul huis in Fochville, sowel as waar die kluis in hul huis is, gegee.

Die rowers is hierna in die egpaar se wit Nissan Navarra met die registrasienommer GUSTAV NW van die toneel af weg.

Hoewel die rowers Gustav se hande en voete vasgebind het, het hy gelukkig kopgehou en teen die kas waarlangs hy gelê het, gestamp tot daar ‘n “bolt cutter” afgeval het waarmee hy homself kon loskry. Hy het daarna oor die plaas en ‘n buurplaas in die rigting van die Deelkraal-pad gehardloop, waar ‘n groep mans in ‘n wit VW Golf gestop en om vir hom ‘n selfoon geleen het om vir hulp te bel.

“Die een man moes eers geld op die foon laai voor ek met dit kon bel. Ek sal hul altyd dankbaar wees. Ek het in die middel van die pad gestaan en daar is seker eers vier ander karre by my verby voor hulle gestop het,” vertel hy.

Gustav het ‘n familielid gebel en aangesien hy gedink het dat die rowers Gerda by hulle gehad het, dadelik gevra dat die polisie en ander hulp so gou as moontlik na hul huis in 1ste Straat in Fochville haas om die rowers te probeer keer. Met die polisie en ander hulp se aankoms by die huis het die bakkie egter in die garage gestaan. Die enjin het steeds geluier en daar word vermoed dat die erf se alarm afgegaan en die rowers afgeskrik het.
Gustav kon gelukkig vinnig mediese hulp kry vir die wonde wat hy tydens die aanval opgedoen het.

Gerda was egter steeds op die plaas, en het op haar beurt gedink dat die rowers met Gustav daar weg is. Sy het aanvanklik baie gesukkel om die toue waarmee sy by watertenks vasgebind was, los te kry.

“Ek het aangehou om tot die Here te roep. Skielik was die drade wat eers só styf was, nie meer so styf nie en kon ek my hande loskry,” vertel Gerda.
Sy kon haarself later gelukkig tot by die plaashuis kry en het eers uitgegaan toe familie later na haar kom soek het.

Sover bekend is niemand nog in verband met die voorval gearresteer nie. Beeldmateriaal van sekuriteitskameras in die omgewing van die egpaar se huis het gewys hoe die vier verdagtes te voet in die rigting van die rivier gevlug het. Hulle het ook vermoedelik Gustav se iPhone in die rivier gegooi omdat die sein net tot daar gevolg kon word.

Die polisie, lede van die GPF, sekuriteitsmaatskappye en verskeie ander lede van die Fochville-gemeenskap het tydens die voorval gehelp.

Related Articles

 
Back to top button