KidsLocal newsParenting News

Kinders dra ook saam aan ouers se spanning

Ons kinders kry swaar, want óns kry swaar.

Dit is die boodskap wat dr. Rhona van Niekerk, kliniese maatskaplike werker en trauma-terapeut, aan sakelui in Modimolle gegee het.

Van Niekerk was een van die sprekers tydens die Waterberg-sakekamer se maandelikse byeenkoms op Woensdag 18 Oktober. Oktober is geestesgesondheidsmaand en die doel is om mense op te voed oor sielkundige uitdagings en om die stigma en diskriminasie wat daarmee gepaardgaan, te verminder.

Van Niekerk het tendense onder jongmense, soos selfmutilasie en dwelmgebruik uitgelig en gesê sy ervaar dat dit plaaslik toeneem. Sy het sakelui aangemoedig om seker te maak dat hulle genoeg tyd saam met hul gesinne deurbring — al is die werksdruk groot.

Dr Rhona van Niekerk.

“Kinders wat emosioneel sukkel, kom nie noodwendig uit haglike omstandighede nie, maar ook uit gegoede huise. Ek sien dikwels dat ’n kind wat probleme het, regtig oulike ouers het, maar hulle is self só besig om te probeer oorleef, dat hul kinders nie genoeg aandag kry nie. Ouers het dikwels meer as een werk. Hulle is amper soos ’n muis op ’n wielietjie wat al hoe vinniger moet hardloop om te keer dat hulle afval. Ouers is gespanne en wend hulle na middels soos pille, drank of bring ure op hul selfone deur om hul eie spanning te probeer hanteer. Die kinders sien dit en bly eerder stil oor hul eie probleme,” het sy gesê.

“Kinders leer sosiaal aanvaarbare maniere aan om hulle spanning te help hanteer, soos om eerder by maatjies te kuier as dinge nie lekker by die huis is nie of ure lank boek te lees,” het sy gesê. “Nie kinders of volwassenes is gebou om soveel spanning te hanteer nie. As ons dinge nie verwerk nie, raak dit soos klippe wat ons in ’n rugsak pak. Die rugsak wat ons oral moet saamdra raak al hoe swaarder.”

Die spreekwoordelike bom bars dikwels wanneer die kinders hoërskool toe gaan en as tieners groter en meer komplekse emosies moet hanteer. Hulle bring hul huislike frustrasies skool toe en ouers is verbaas wanneer hulle deur die skool gekontak word omdat die kind by die huis nie van die probleme melding gemaak het nie.

“Omdat die emosies so baie is en kinders sukkel om dit te reguleer, raak hulle afgestomp, onbetrokke en belangeloos. Selfmutulasie, soos om hulself te sny, is ’n manier waarop hulle probeer om weer te voel,” het Van Niekerk gesê. “Daar is ’n toename in seuns wat hulself só sny.”

Kinders wat smag na aanvaarding, wend hulself ook toenemend tot hul eie wêreld op hul selfone. Dit maak die deur oop vir boelies wat deesdae nie meer agter die pawiljoen skuil nie, maar op die internet wag.

“Maak seker dat julle elke dag vir minstens ’n halfuur julle selfone neersit en julle volle aandag aan jul kinders gee,” het sy sakelui aangeraai. “Wanneer ’n kind ’n ‘I don’t care’ houding het, is dit rooi ligte wat flikker. Maak plan om tyd saam met hulle deur te bring.”

Van Niekerk het mense aangemoedig om ’n kind “aan te neem”.

“Daar is sakelui wat reeds kinders wat hulp nodig het, finansieel ondersteun. Ons sien dramatiese verbetering wanneer ons outistiese- of Asperger-sindroom kinders kan laat evalueer en hulle amanuensis (waar hul vraestelle vir hulle gelees word of daar namens hulle geskryf word) by skole kan doen. Die borge kry foto’s van die leerder se vorderingsverslae, hoewel die kind anoniem bly.”

“Ons almal het ons pakkies wat ons moet dra. As ons dit nie reg bestuur nie, gaan die spanning ons inhaal. Kyk net hoeveel mense maak staat op gemoedstabiliseerders, slaappille en antidepressante. Ons moet werk maak daarvan om ons spanning te hanteer ter wille ook van ons kinders,” het sy gesê.

Die Suid-Afrikaanse Depressie en Angsgroep se webwerf, www.sadag.org het ook talle hulpbronne beskikbaar.

Related Articles

 
Back to top button