Local news

Jong leraarspaar verwelkom

Die NG Kerk Warmbad Wes-gemeente in Bela-Bela verwelkom ’n nuwe leraar.

Wynand Eloff (31) is die jong proponent wat beroep is om die gemeente te bedien. Hy en sy vrou Bia het die hoop uitgespreek dat hoewel hierdie hul eerste gemeente is, hul nog vir baie jare deel van die gemeenskap sal wees.

Wynand wat sy studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi het, het vertel dat hy ’n erediens as gas-prediker kom waarneem het en daarna is hy genooi vir ’n onderhoud vir die vakante pos as leraar.

Hy sê hul het die pos aanvaar omdat hy weet dit is die Here wat hom geroep het om in Bela-Bela te kom werk. Hy glo dat God se groter plan die ruimte skep vir Christene om tot Sy eer te werk waar hul nodig is. Sy deur is altyd oop vir die gemeente maar wil ook betrokke raak in die gemeenskap se doelstellings. Hy is oop vir versoeke.

Hy vertel dat hy as jong kannetjie saam met sy familie in Bela-Bela kom vakansie hou het. Hy het so baie van die dorp en sy mense gehou dat hy aan die einde van die vakansie deur die dorp se strate geloop het en gedink hy gaan die dorp ‘groet’. Hy het egter verdwaal en kon nie weer sy pad terug vind na die Aventura-oord (nou Forever Resorts) nie. ’n Barmhartige Samaritaan het haar oor hom ontferm en sy het hom na haar plot geneem nadat sy vir hom ’n roomys gekoop het en vandaar die polisie in kennis gestel van die verdwaalde seun. Dit het vir hom soos ’n ewigheid gevoel voordat hy weer met sy familie herenig is.

Maar die feit bly staan dat hy reeds toe al ’n aanvoeling vir die dorp gehad het en dat ’n vreemdeling haar oor hom ontferm het en hom in sy nood bygestaan het. Dit sal hom altyd bybly.

Ds. Wynand Eloff se intree preek is op Sondag 12 Mei om 09:00 in die Warmbad Wes-gemeente. Almal is hartlik welkom.

Related Articles

 
Back to top button