Local newsNews

Staatmaker lê die bemarkingstuig neer

“Hoe gaan dit my mater,” groet sy met haar kenmerkende hees lag. Petro Greeff het na meer as 22 jaar as bemarker vir Die Pos in Modimolle haar hoed opgehang om af te tree.

In haar meer as twee dekades het sy die groot én klein ondernemings in die dorp soos die palm van haar hand geken – ook die uitdagings waarmee talle van die sake-eienaars moes worstel om ’n sukses van hul ondernemings te maak.

Dié gebore bemarker, wat soos die spreekwoord lui: “ys aan ’n eskimo” kan verkoop, het haar tande vroeg geslyp as ’n bemarker by die groot Rembrandt-sigaretgroep in die tye toe dié handelsname baie groot en in die mode was.

“Dit was opwindende tye waar ons die land platgereis het in splinternuwe motors soos afslaankap Camaro’s of selfs ’n Limousine met ’n chauffeur. Die opleiding wat ons daar ontvang het was vir my goud werd. Regoor die land het ons by groot en klein sigarethandelaars ingestap om te hoor wie koop wat en of hulle nie eerder ons produk wil probeer nie. Ek het hier die geleentheid gekry om ’n wye mensekennis op te bou. Dit was ’n groot voorreg dat Anton en Johan Rupert self ingesit het in die opleidingsessies.”

Menige humoristiese stories spruit uit hierdie tyd.

“Ek sal die dag toe ’n tronkvoël ons genooi het vir ’n braai nie vergeet nie,” lag sy.

Die maatskappy het ’n rolbaldag geborg wat by ’n gevangenis aangebied is. Van die gevangenes wat meer vryhede het, het ons gehelp motors parkeer en met ander takies. Jy moet mooi verstaan, as jy in die tronk is, is sigarette goud werd. Blikkies was ’n op-en- wakker ou en baie behulpsaam, maar hy het seker tien kartonne se sigarette uit ons uit gedurende die drie weke. Hy was natuurlik, volgens hom, verkeerdelik gevonnis en is eintlik onskuldig. Op ons voorlaaste dag nooi hy ons vir ’n braai. Dit is uit skone nuuskierigheid dat ons ingestem het. Kan jy glo. Met ons aankoms wag daar ’n tafel met ’n spierwit tafeldoek en vlymskerp messe. Ons het gesmul aan dikgesnyde T-bene en heerlik gekuier maar het nogal gewonder waar ’n gevangene aan daardie skerp messe kom!”

Platteland (en liefde) roep

Tydens ’n kerkkamp op veertigjarige ouderdom ontmoet sy vir Ben Greeff en die liefde blom.

“Ons het ses maande later besluit ons trou – ons albei het besef dat hierdie ’n groot genade is en ’n tweede kans op geluk.”

Die stadsmeisie verruil haar hakskoene vir platskoene en Ben lyf haar in as ’n Waterberg-inwoner deur ’n boerbok huis toe te bring om te slag.

“Toe hy die bok se pens oopsny, vertel hy vir my dit is my werk om nou die derms te vang. Ek vang die grillerige stink spul en Ben verdwyn in die huis in. Hy laat my seker ’n halfuur so staan en klou aan die binnegoed terwyl hy in die huis vir my staan en lag!”

’n Jaar later word sy aangestel as bemarker by Die Pos.

“Nylstroom se mense was vir my baie goed gewees en soveel van my verhoudinge met van my kliënte strek oor baie, baie jare. Kliënte het staatmakervriende geword.”

Sy vertel van die dag wat haar e-pos gekaap is.

“Ek het nie besef nie, maar daar het ’n vals e-pos, in Engels, aan al my kliënte uitgegaan wat hulle vertel dat ek oorsee gestrand is na ’n vakansie wat skeefgeloop het en dringend geld nodig het om terug te kom huis toe.”

Dit is eers toe ’n baie benoude ontvangsdame instorm om te sê haar telefoon hou nie op lui nie, dat ons besef wat het gebeur.

“Ek het daardie dag besef hoe baie mense daar is wat vir jou omgee.” Sy lag. “Die een wat ek die meeste waardeer het was toe Willem Traut van Big L Staal instap. Hy was een van my heel eerste kliënte toe ek by Die Pos begin werk het en wou self sien of ek wel is. “Petro, ek het geweet as jy rêrig in die moeilikheid is sou jy in Afrikaans om hulp gevra het!” was sy woorde.

Petro het self ook die nuus in Die Pos gehaal.

“Nadat ek jarelank geglo het dat ek nie kinders sou kon hê nie, het ek en Ben swanger geraak op 47-jarige ouderdom. Ek was op Methotrexate, ’n chemoterapie-medikasie wat ’n normale swangerskap volgens die spesialiste onmoontlik gemaak het. Ons baba, Gabby, is wonderbaarlik perfek gebore en is vandag ’n lewenslustige 16-jarige. Ek was kort na haar geboorte een oggend in die supermark toe ’n vrou wat ek nie ken nie my voorkeer. Sy vertel my dat sy deel is van ’n gebedsgroep op die Vlakte wat deur my hele swangerskap vir my en Gabs gebid het nadat hulle van ons in die koerant gelees het. Dit is die genade en meelewendheid van die platteland.”

Dit is juis hierdie genadekind wat Petro laat besluit het om op 63 af te tree.

“Sy is nog net twee jaar in die huis voordat sy gaan studeer en ek wil elke oomblik saam met haar geniet!”

Haar kantoordeur het altyd oopgestaan vir diegene wat moed-inpraat nodig gehad het.

“Ek sal graag meer daarvan wil doen noudat ek tyd het. My ketel kook vinnig en soms het ’n mens net ’n oor nodig wat luister en hóór wat jy wil sê,” nooi sy uit.

“Ek wil graag my opregte dank betuig aan elke kliënt en kollega waarby ek geleer het en wat hierdie hoofstuk ingekleur het. Ek wens vir elkeen net goedheid en guns op hul pad vorentoe.”

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button