Local newsNewsSchools

‘n Vrou gewy aan opvoeding, dissipline en kultuur

In die hart van die Bosveld, omring deur die natuurprag het Amanda Jansen van Vuuren, of beter bekend as Ma van Vuuren onder haar oud-skoliere, haar lewenslange roeping in opvoeding en kultuur gevind. Vir meer as ’n kwarteeu was sy die geliefde skoolhoof van Jinnah Park Primary School, waar sy haarself gewy het aan die ontwikkeling van honderde jong geeste.

Vandag blik sy terug oor ’n ryk nalatenskap van toewyding en inspirasie en vertel tong in die kies hoe sy departementele vergaderings op hulle koppe gedraai het, om seker te maak dat Jinnah Park toekom wat die leerders verdien. Met ’n passie vir haar skool en ’n veggees, het hierdie dinamiese vrou Jinnah Park opgebou en ’n nalatenskap van dissipline en respek aan die nuwe ge-
nerasie agter gelaat.

Met ’n onderwysloopbaan wat strek oor 38 jaar, het Amanda haar stempel afgedruk op die opvoedkundige landskap. Vanaf die beskeie begin by Jinnah Park in 1995, toe die skool slegs ’n handvol leerders en min klaskamers gehad het, tot die uitdagende einde van haar termyn in 2021 met bykans ’n duisend leerders en uitgebreide fasiliteite, het sy nie net die skool help groei nie, maar ook ’n kultuur van dissipline en akademiese ingesteldheid bevorder.

Amanda het aan Die Pos vertel dat sy altyd daarna sal verlang om vir die skool op te staan en te sê waarvoor almal bang was.

Haar passie vir drama het nie net in die klaskamers gebly nie. Sy vertel graag dat sy haarself die “drama principal” gedoop het. Amanda het haar liefde vir die teater oorgedra na haar leerders, wat hoogtepunte bereik het op verskeie kunstefeeste, eisteddfods en kompetisies. Deur haar drama-onderrig het sy nie net vaardighede aangeleer nie, maar ook selfvertroue en ’n liefde vir kuns geïnspireer by leerders.

Amanda se bydrae tot die gemeenskap strek verder as die skool se mure. Vir byna twee dekades is sy ’n aktiewe lid van die ATKV, waar sy haar energie en passie gebruik het om kulturele aktiwiteite te bevorder en die Waterberg Afrikaanse Kultuurfees (WAK) ‘n sukses te maak. Haar betrokkenheid by die ATKV het nie net ’n liefde vir taal en kultuur by die jongmense aangevuur nie, maar ook ’n sin vir gemeenskap en verbondenheid.

Vir Amanda is Bela-Bela nie net ’n plek op ’n kaart nie, dit is haar tuiste. Met meer as 40 jaar se geskiedenis in die dorp, het sy die rykdom van die Bosveld en die warmte van die gemeenskap omarm. Haar liefde vir die omgewing, die skool en die mense daarvan is onmiskenbaar, en haar hoop vir die toekoms van Bela-Bela en Jinnah Park bly onwrikbaar.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button