Local newsNews

Snotsiekte twis tussen bure ontaard in hofgeskil

’n Boer buite Modimolle is ontsteld nadat nóg een van sy beeste aan snotsiekte gevrek het. Hy het al 26 beeste op die wyse verloor.

Leander Shepherd sê die buurplaas, Castle de Wildt, voldoen nie aan ’n hofbevel wat in Augustus verlede jaar deur die hooggeregshof in Polokwane aan hom toegestaan is, om hul blouwildebeeste agter ’n heining 100 m van sy grond te hou nie. Daar is ook nog geen poging aangewend om sy voerkraal verder weg te skuif soos wat die hofbevel beveel het nie.

Gys Pitzer. Foto verskaf

Volgens Shepherd het die blouwildebeeste al herhaaldelik deur die heining gebreek of deur oop hekke nader aan sy grond geloop. Sy voerkrale is langs die grensdraad geleë en moes volgens die hofbevel deur Castle de Wildt op hul onkoste geskuif word na ’n ligging wat Shepherd aandui.

Shepherd se prokureur, Marinus van Jaarsveld, het aan Die Pos gesê dat hulle reeds verskeie briewe rakende die saak aan Gys Pitzer, die eienaar van Castle de Wildt, gestuur het.

Castle de Wildt buite Modimolle.

“Ons het twee weke gelede ’n finale skrywe aan hulle gestuur en aangedui dat hulle in minagting van die hofbevel is. Ons sal binnekort hofstukke op hul beteken oor die kwessie,” het hy gesê.

By navraag het Pitzer gesê dat die wildebeeste wat deurgebreek het dieselfde dag verwyder is as wat hulle in kennis gestel is.

“Ek het dieselfde dag ook begin om die voorgeskrewe heining tussen ons, waaroor ons in die hof ooreengestem het, op my eie koste hoër te maak.” Hy het gesê dat die buurman ook al die Dierebeskermingsvereniging (DBV) gestuur het om die wild te inspekteer. “Hulle was baie tevrede met die wild en met die byvoeding wat ons gee.”

“Leander wil hê ek moet die skuur teen ’n koste van meer as R3 miljoen skuif, terwyl hy R2,9 miljoen vir die hele plaas betaal het. Dit is nie wat by die hof ooreengekom was nie en kan tog nooit billik wees nie. Leander dreig al vir maande dat hy ’n minagtingsaansoek gaan bring en dat sy prokureur besig is om die hofstukke op te stel. Ek sou verkies dat ons soos goeie bure met mekaar kon gesels en oor die weg kom.”

Shepherd het aan Die Pos gesê dat die kwotasie wat hy van ’n plaaslike onderneming aangevra het om die voerkraal te skuif, meer as R4 miljoen beloop.

“Die probleem is dat die kraal, voerstoor, drukgang, afleivore en misdamme ’n eenheid is en saam geskuif moet word. Die kraal is teen hellings gebou sodat water wegloop en nie bly staan nie. Die Klein Nylrivier loop deur die plaas en hier is vleie waarom ons moet werk – die plaas is maar 450 m breed. Die kwotasie wat ons ontvang het maak ook voorsiening vir 300 mm kompaksie van die voerkraal,” het Shepherd voorheen aan Die Pos gesê.

Shepherd het vandeesweek aan Die Pos gesê dat daar steeds geen vordering met die skuif van die voerkraal gemaak is nie.

“Ek is ontsteld oor die verlies aan inkomste wat hierdie vir my beteken. Solank as wat die voerkraal nie geskuif word nie, kan ek dit nie gebruik nie. Die saak hou aan sloer sonder enige te-
ken dat hulle beplan om iets omtrent die kwessie te doen,” het hy gesê.

Castle de Wildt bied bees- en wildveilings aan asook jaggeleenthede. Nóg ’n buurman, dr. Hennie Nel, is in ’n hofgeding met Castle de Wildt gewikkel oor sy Santa Gertrudis-stoetbeeste wat dood is aan snotsiekte.

“Ons het datums aan Pitzer se prokureurs en advokaat deurgegee en sal binnekort ’n datum kan vasmaak met die griffier van die hof vir wanneer ons aansoek om verlof om appèl aangehoor gaan word,” het Van Jaarsveld gesê.

Die hooggeregshof in Polokwane het Nel se dringende hofaansoek op Dinsdag, 8 Augustus 2023 van die hand gewys. Die aansoek het gevra dat Castle de Wildt onmiddelik al hul wildebeeste en buffels moet verwyder, nadat Nel dertien Santa Gertrudis-stoetbeeste weens snotsiekte verloor het.

Snotsiekte (bovine malignant catarrhal fever) is ’n virussiekte wat van wildebeeste oorgedra word na buffels en beeste en is dodelik.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button