Local newsNews

Varkplaas nie welkom, sê bure

Planne om ’n groot varkplaas buite Modimolle te vestig, het die eienaars van buurplase warm onder die kraag.

Hulle is bekommerd dat die boerdery ’n stank oor hul huise sal laat hang en dat die waterkwaliteit nadelig beïnvloed kan word deur die mis van die duisende varke wat aangehou gaan word.
Die ontwikkelaars van die varkplaas, RK Boerdery, sê egter dat hulle by elke voorgeskrewe bepaling hou waardeur varkplase gereguleer word en dat die plaas, wat tien jaar gelede aangekoop is, as landbougrond gesoneer is.

Die plaas is sowat 15 km buite Modimolle op die R33-pad geleë in Alma se rigting.

Die impakstudie vir die varkplaas, wat op 19 hektaar by Witklip beplan word, is reeds afgehandel. Die ontwikkeling is deur die Limpopo departement vir ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme (Ledet) goedgekeur en die appèl wat inwoners in die omgewing aangeteken het, is op Vrydag, 9 Februarie deur die LUR van Ledet, Rogers Monama, van die hand gewys.

Volgens die omgewingsverslag is daar goedkeuring gevra dat sowat 5000 teëlsôe in sestien afdelings aangehou word.

Aangrensende boere is bekommerd dat die stank wat met varkplase gepaardgaan, hul eie bedrywighede in die wiele kan ry. Inwoners van een van die buurplase sê dat hul huis minder as ’n kilometer van die beplande ontwikkeling af is en dat hulle nie heeldag met die onaangename reuk wil saam lewe nie.

Volgens een van die bure, DA-raadslid, Wiets Botes, is daar waterbronne in die gebied wat nadelig geraak kan word.

“Daar is ’n fontein op my plaas wat in die Mogol-waterskema invloei en daardie rivier loop Alma toe, verby ’n informele nedersetting en plase wat uitvoervrugte soos lemoene en aarbeie plant,” het hy gesê.

Die eienaars van RK Boerdery buite Bela-Bela, Manfred en Etienne Süllwald, sê egter dat hierdie klagtes nie water dra nie.

“Ons boer reeds baie jare lank met vier keer meer varke as wat ons beplan om op die nuwe plaas aan te hou, sonder dat daar enige probleme is. Die water word ook nie besoedel
nie.”

Die plaas buite Modimolle sal net gebruik word om varke te teel en volgens die Süllwalds sal daar aanvanklik net 2 000 sôe wees.

“Dit is net die sôe. Die klein varkies word op 28 dae gespeen en die uitgroeifase word elders gedoen,” het Manfred gesê.

Hulle sê dat hulle streng by die regulasies hou en aan alles voldoen wat van hulle verwag word.

“Ons sal baie dom wees as ons R30 tot R40 miljoen in ’n projek belê en dan kortpaaie probeer vat wat dit kan kelder.”

Wat die klaers se kommer oor die watergehalte behels, sê die Süllwald-broers dat daar van varkboere vereis word om elke ses maande die water te laat toets om te kyk vir skadelike bakterië en chemiese veranderinge. Skoon water is glo vir hulself van kritiese belang om te kan boer.

“Soos wat die grond nou daar lê kan niemand ’n bestaan maak nie. Dit is nie tipiese Bosveld-plantegroei nie, maar is vol soutbos en bankrotbossies. Die miswater wat ons uitspuit, gaan die grondgehalte verbeter,” het Etienne gesê.

Die varke ontvang volgens die Süllwalds 100% organiese rantsoen wat geen diereprodukte bevat nie.

“Ons voer nie dooie hoenders en afval soos wat baie mense dink nie,” het Etienne gesê.

Hy voeg by dat die klaers tydens die publieke deelname proses uitgenooi was om ons plaas buite Bela-Bela te besoek en deur die varkhokke te stap.

“Ons het meer gedoen as wat van ons verwag word om hul gerus te stel.”

Die Süllwald-broers hou voet by stuk dat die grond as landbougrond gesoneer is en dus geskik vir hul uitbreiding.

“As varke dan nie op landbougrond welkom is nie, waar sal enige iemand dan met varke kan boer?”

Die klaers het aan Die Pos gesê dat hulle met ander grondeienaars in gesprek is om die saak verder te voer.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button