Schools

Nuwe hoof vir CVO-skool

’n Nuwe jaar het ’n nuwe skoolhoof gebring vir die Waterberg CVO-skool, in Modimolle.

Rudie Fourie het sedert die begin van die skooljaar die leisels by die vorige hoof, Retha Prinsloo, oorgeneem.

Fourie (64) was voorheen dertien jaar by Hoërskool Nylstroom waar hy adjunkhoof en koshuisvader was, Afrikaans as vak gedoseer en ook die sportorganiseerder was. Voor dit was hy tien jaar lank ’n onderwyser by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria.

Fourie sê dat hy opgewonde is oor die hoofstuk wat vir hom voorlê.

“Ek kan my vereenselwig met die etos van die skool en ek glo in die waarde van die onafhanklike eksamenraad (IEB) asook die manier waarop die werk aangebied word,” het hy gesê.

“Kinders leer om nie net papegaai-styl te leer nie, maar vir hulle self te dink en konsepte te ontdek. Ek is baie kind-gerig en verstaan dat ’n kind maklik in ’n groter klas misgekyk kan word. Kinders moet gelukkig wees in die skool – dan is hulle ouers gelukkig en dan kom die akademie vanself. Kinders leer al spelende en speel al lerende,” sê hy.

’n Nuutjie vir hom is die laerskoolkinders.

“Dit was die grootste verrassing om op die eerste dag soveel drukkies te kry!” lag hy.

Benewens die drukkies is hy ook verwelkom met sjokolade, pouvere, waatlemoene en aartappels wat hul pad na sy kantoor toe gevind het. Fourie se vrou, Alinda, is ’n gr. 2-onderwyser by Laerskool Nylstroom.

“Dit is lekker om te sien dat die skool se getalle groei. Ons het vanjaar reeds agtien nuwe leerders bygekry,” het hy gesê. Sy plan is dat sport gedy by die skool en dat almal deelneem. “Kinders moet fisies aktief wees. Jy hoef nie noodwendig uit te blink in sport nie, maar jy kan dit definitief geniet!”

Prestasie, glo hy, moenie letsels laat nie.

Sy visie sluit in dat die skool meer betrokke raak in die gemeenskap.

“Ons wil graag geleenthede skep vir leerders om deel te neem, of dit nou op kulturele, akademiese of op sportgebied is,” het hy gesê.

Related Articles

 
Back to top button