Local sport

CDG-pretloop is net om die draai

Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer die jaarlikse Congenital Disorders of Glycosylation (CDG)-pretloop, Rare on the Road, in Bela-Bela plaasvind.

Hierdie jaar word dit op Sondag, 19 Mei vanaf 11:00 by die Turfbult Aqua-fiksheidsentrum (swemskool) op die ou Pretoria-pad buite Bela-Bela plaas.

CDG is ’n seldsame siekte wat indringende mediese sorg verg.

Talle inwoners daag jaarliks op om hul ondersteuning aan Stefani van Schalkwyk (10), ’n jong CDG-lyer, te betoon. Haar ouers, bekende inwoners van die dorp, Theunis en Chantelle, is sedert haar geboorte toegewyd in die taak om haar te versorg.

Die van Schalkwyk-egpaar het aan Die Pos gesê dat hul baie dankbaar is vir die gemeenskap se meelewing en dat hul sedert Stefani se geboorte hul ondersteuning gegee het.

Deelnemers kan inskryf vir die 1,5 km-, 3 km-, 5 km- en 9 km-pretloop. Die afstande kan gestap of gedraf word. Die pretloop word internasionaal gehou op CDG-dag. Deelnemers spring om 11:00 die oggend by die sentrum weg en die roete is op die plaas uitgelê en deelnemers kan veilig in die natuur deelneem. Roetemerkers sal vir deelnemers aandui waar hulle kan terugdraai.

Daar is heerlike koffie en kosstalletjies na afloop van die pretloop vir diegene wat bietjie versterking nodig het.

“Dit is ’n dag van meelewing vir Stefani. Bring kampstoele en stootwaentjies, nooi jou vriende en kom neem deel vir ’n goeie saak,” vra Chantelle.

Kostes beloop R100 per persoon. Kinders neem gratis deel. Deelnemers se ‘hondekinders’ is ook welkom om die dag saam te kom geniet.Vir inligting skakel Chantelle by tel. 064 653 1017.

Related Articles

 
Back to top button