Graad Ses-leerder gekies vir ABS-Produksies se Speeltoneel 2020
Leeuwenhof Akademie leerder Rico Preston (12) is deur ABS-Produksies, in samewerking met aktrise Christel van den Bergh, gekies vir Speeltoneel 2020.
Leeuwenhof Akademie leerder Rico Preston (12) is deur ABS-Produksies, in samewerking met aktrise Christel van den Bergh, gekies vir Speeltoneel 2020.
Dit volg na die Graad Ses-leerder onlangs aan oudisies vir ABS-Produksies se Speeltoneel 2020 deelgeneem het wat toe die geleentheid gebied is om vir 12 maande lank aanlyn afgerig te word deur bekendes soos Van den Bergh en Desire Gardner.
Van den Bergh sal as Rico se mentor optree.
“Na 12 maande word daar ‘n kortfilm gemaak waar die deelnemers te siene sal wees,” het sy ma, Rita, verduidelik.
Rico het vertel: “Speeltoneel bied vir my as jong seun die geleentheid om die fasiliteerders te gaan ontmoet by die studio en ek gaan ook die kans kry om in ‘n teater te werk.
“Ek is ongelooflik opgewonde omdat ek hard gewerk het aan die video wat ek moes instuur vir die oudisies. Ek doen al van Graad Een af redenaars en geniet dit vreeslik om op te tree voor mense.”
Dié jong ster meen hy is nog baie jonk en probeer alles aanvat waarin hy belangstel.
“Ek sien baie uit na die volgende jaar om nuwe dinge te leer en nuwe vriende te maak regoor die land wat saam my gaan werk. Dis ‘n wonderlike geleentheid en ek is baie dankbaar hiervoor.Die beste raad wat ek vir myself gee is om altyd alles tot die beste van my vermoë te doen, maak nie saak wat ek aanpak nie.”
Sy stokperdjies en sport is onder andere rugby, atletiek, landloop, skaak en tennis. Rico ry motorfiets en speel ook elektriese kitaar en is besig met sy Graad Twee Rockschool-eksamen in Augustus.
“Verder geniet ek dit om saam my familie en vriende te kuier.”
Rico woon saam met sy ouers, Wayne en Rita, in Marlands en het ook twee ouer boeties, Daru (26) en Dejan (25).
Have a story?
Contact the newsroom by emailing:Editor at germistoncitynews@caxton.co.za, or Busi Vilakazi (Journalist) busiv@caxton.co.za.
Also follow us on:









