Hoër Volkskool word ‘n tweede huis vir 16 leerders van dieselfde familie
Christel het namens die groot familie haar dankbaarheid uitgespreek vir die hartlike ontvangs wat hul kinders ontvang het.

Hoër Volkskool Heidelberg spog vanjaar met 16 leerders wat almal familie is.
Hierdie gebeurtenis van niggies, nefies, boeties en sussies wat almal vanaf dié jaar saam in die skool is, het ‘n gegons van opgewondenheid en nuuskierigheid in die skool en die familie geskep.
Die skool familie bestaan uit leerders van grade agt tot 12.
Een van die ouers Christel le Roux het vertel dat hul ‘n groot familie is.
“My ma (Robin en Karlee se ouma en oupa) se nooiensvan is Steyn.Hulle is nege kinders wat almal nog leef.
“My pa se van is Pruis. Hulle was agt kinders waarvan twee sussies verlede jaar oorlede is.
“My oupa Steyn kom ook uit ‘n gesin van 13 kinders,” het Christel vertel.
“Ons reël familie reünies van tyd tot tyd sodat almal lekker kan kuier,” het Christel vertel en genoem dat hul laaste reünie in Desember 2023 by Oppie Koppie buite Heidelberg was.
“Die kinders kom almal goed oor die weg, alhoewel hulle soms soos miere rond beweeg.
“Om almal saam te kry vir ‘n foto of om te eet, terwyl ons reünie hou by ‘n vakansie oord, is soms uitdagend,” het sy gesê.
Die Graad Agt familie is Karlee le Roux, Jeandré Nel, Chantelize Pruis, Julanca van Rooyen, Leyna Strassburg, Krynauw van der Merwe, Janke du Plessis en Aiden Loots.
“Soos in skool het hulle ook maar groepies wat meer kuier maar baie van die kinders was in ander laerskole so, nou sal hulle baie meer van mekaar sien,” het Christel vertel.

Leyna was in Laer Volkskool en Chantelize in Laerskool AG Visser. Dié twee niggies het teen mekaar netbal gespeel en sal vir die eerste keer vanjaar saam in ‘n span kan wees.
Die res van die familie is Robin le Roux (Graad 12), Ricardo Pruis (Graad 12), Yolandi Kurt (Graad 12), Leanie Nel (Graad 10), Jacques Steyn (Graad 10), Jessica Kurt (Graad 11), RJ Kurt (Graad Nege) en Dylan de Bruyn (Graad Nege).
Daar is baie talent in die familie waarvan musiek een is en tydens ‘n familie reünie word daar saam musiek gemaak en gedans.
Boeresport is gewoonlik die hoogtepunt by familie kuiers en sorg vir groot vermaak en baie lag.
Christel het namens die groot familie haar dankbaarheid uitgespreek vir die hartlike ontvangs van hul kinders.
“Ons is dankbaar vir die ondersteuning en aanmoediging wat ons kinders gekry het. Hoër Volkskool Heidelberg het werklik ons familie omhels, en ons is opgewonde om te sien hoe ons kinders hier gaan floreer,” het sy gesê.
“Soos die akademiese jaar vorder, gaan die familie se reis by Hoër Volkskool Heidelberg verseker gevul wees met onvergeetlike oomblikke en betekenisvolle prestasies.”
Hoër Volkskool Heidelberg is opgewonde oor die groot familie wat hul ryker geword het.
“As ‘n tradisieryke skool is dit vir ons lekker om te sien dat ons ook as ‘n familie skool geag word. Van die leerders het ook al diep spore by Volkies getrap,“ het die skoolhoof, Sias Botha gesê.