Vossie wen goud by SA’s
Petri Stoltz het onlangs aan die SA Skole Atletiekkampioenskappe deelgeneem.
Petri Stoltz (15), ’n Hoërskool John Vorster leerder, het onlangs sy skool by die Suid-Afrikaanse Skole Atletiekkampioenskappe gaan verteenwoordig.
Petri het aan die o-15 hoogspring-item deelgeneem, waar hy goud gewen het met ’n sprong hoogte van 1.97m.
“Ek is baie trots op myself,” het Petri aan HERAUT gesê.
“Ek was baie op my senuwees voor die tyd, maar die druk is ’n goeie ding.
“Die adrenalien in die oomblik het baie gehelp.”
Petri meen dat hy baie opgewonde was toe hy besef het dat hy die sprong gehaal het.

“Die rekord is 2m,” het hy gesê.
“Ek het die sprong net-net gemis.”
Petri meen dat hy van kleins af aan die sport wou deelneem.
“Ek het gesien hoe ander kinders by die skool dit oefen en ek wou dit ook probeer,” het hy vertel.
“Dit het lekker gelyk.”

Petri se ma, Mart-Marié, het gesê: “Ons is baie trots op hom.
“Ons is ook vreeslik dankbaar vir sy afrigter, Arthur Swan, wat vier keer ’n week saam met Petri werk.
“Ook vir juffrou Klarinda Stander by die skool, wat gehelp het met registrasie en ander reëlings. Sonder hulle hulp weet ek nie hoe ons hier sou uitkom nie.”
Alhoewel Petri nog nie aan groter atletiekbyeenkomste kan gaan deelneem nie, is sy droom om eendag aan die Olimpiese Spele te gaan deelneem.
“Volhard en oorwin. As jy aanhou werk en volhard sal jy verseker oorwin,” het Petri gesê.




