Vreugdevure brand hoog vir Vossies se matrieks van 2015
NIGEL - 122 Matriekleerders van Hoërskool John Vorster het die 2015 nasionale senior sertifikaat eksamen afgelê.

By bekendstelling van die matriekuitslae op 6 Januarie het die skool ‘n voorlopige slaagsyfer van 98% behaal, maar volgens die waarnemende hoof Mev Nolte is dit onderhewig aan verandering, in afwagting van die uitslae wat na die her-eksamens vrygestel word.
Me Nolte het haar trots in besonder teenoor Aarifa Patel uitgespreek, na haar inskrywing in die skool se geskiedenisboeke. Nie alleen was Aarifa die eerste Engelssprekende dux-leerder in 2015 gewees nie, maar is sy ook die skool se algehele toppresteerder met ‘n gemiddeld van 86% en spog met ses onderskeidings waaronder Engels (88%), Afikaans (92%), Wiskunde (80%), Lewens Oriëntering (91%), Besigheidstudies (88%) en Lewenswetenskap (88%).
“Ons is oneindig trots op die matriekgroep vir hul uitsonderlike prestasies en wens hulle geluk. Harde werk regdeur hul skoolloopbaan het nou vrugte afgewerp. Ons beste wense vergesel hulle op die pad vorentoe. As ons as skool op dié standaard kan voortbou, sien ons uit na 2016 se uitslae,” het Me Nolte gesê en haar dank teenoor elke leerder, ouer en onderwyser vir hul positiewe insette uitgespreek.
Hier volg die name en foto’s van Vossies se blink sterre:
Gawie Jacobs van Hoërskool John Vorster het ses onderskeidings behaal
Gawie Jacobs het ses onderskeidings behaal, naamlik Wiskunde (85%), Lewenswetenskappe (85%), Afrikaans (86%), Engels (82%), Lewensoriëntering (88%) en Rekenaartoepassingstegnologie (89%). Gawie wat met ‘n plaaslewe grootgeword het, het in 2015 direkte keuring by die Onderstepoort Veeartsenykunde Instituut ontvang en sê hy is opgewonde oor sy loopbaankeuse. Sodra hy die BVM.Ch-graadkursus van ses jaar in Veeartsenykunde voltooi het, beplan Gawie egter om sy studies voort te sit, sodat hy in veeartsenykunde by wilde diere kan spesialiseer. “Skole lê deesdae te min klem op die belangrikheid van Graad 11-punte,” het Gawie sy advies gedeel. “Ek het keuring ontvang op grond van my Graad 11 punte en daarom is dit belangrik om altyd jou beste te lewer. Ek het deurgaans hard gewerk, sonder om sport aktiwiteite op te offer en my ouers het ook waardevolle insette gelewer.”
Aarifa Patel van Hoërskool John Vorster het geskiedenis gemaak deur die eerste Engelssprekende dux-leerder in 2015 te wees. Sy is ook die skool se algehele toppresteerder met ‘n gemiddeld van 86% en spog met ses onderskeidings waaronder Engels (88%), Afikaans (92%), Wiskunde (80%), Lewens Oriëntering (91%), Besigheidstudies (88%) en Lewenswetenskap (88%).
Aptekerswese is Gillian Moore van Hoërskool John Vorster se loopbaankeuse en met ses onderskeidings op sy kerfstok, sien hy uit na die volgende vier jaar as student by die Universiteit van Potchefstroom. Gillian het onderskeidings in Engels (83%0, Wiskunde (81%), Geografie (91%), Besigheidstudies (90%), Lewenswetenskappe (84%) en Lewensoriëntering (87%) behaal en sê hy het in Graad 10 die besluit geneem om Aptekerswese (B Pharm) te studeer. Geleenthede het nie altyd in sy skoot geval nie, maar Gillian sê hy het altyd vir antwoorde gebid. “Om slim te wees en onderskeidings te behaal, maak van niemand ‘n “nerd” nie. Ek het steeds aan sport deelgeneem en ‘n sosiale lewe geniet, maar dit is belangrik om die balans te behou. Stel vir jouself doelwitte en jaag dit na, maar doen dit vir jouself,” het hy gesê.











