CrimeLocal newsNews

PLAASAANVALLE: Boere moet verantwoordelikheid vir veiligheid neem!

“Selfs ‘n ten volle bemande polisiediens wat doeltreffend op al sy silinders funksioneer, gaan nie vir my en jou as individu oral en altyd kan beveilig nie” - Dr Johan Burger

‘n Handjievol boere het op 5 September by Hoër Volkskool se rugbyveld saamgetrek waar daar bevestig is dat die verantwoordelikheid vir landelike beveiliging op hul eie skouers rus.
Die kenners het verduidelik dat onbetrokkenheid, oftewel die onbereidwilligheid van ‘n paar boere om deel van bestaande strukture te word ‘n groot probleem is, aangesien ‘n ketting net so sterk soos sy swakste skakel is.
Daar is bevestig dat boere net  eenvoudig nie op die staat (SAPD) alleen vir hul veiligheid kan staatmaak nie en dat die tendens van wetteloosheid wat tans heers, nie binnekort gaan verander nie.
Dr Johan Burger van die afdeling regeerkunde, misdaad en regspleging van die Instituut vir Sekerheidstudies; Henry Geldenhuys (adjunk-president TLU-SA – voorsitter: Landelike Veiligheid) en Van Zyl Schultz (landelike veiligheidskenner) het tydens die beraad waardevolle wenke gedeel en ook die realiteite rondom plaasaanvalle bespreek.
Geldenhuys het begin deur die basiese voorsorgmaatreëls te bespreek en daarop klem gelê dat boere hulself in selfvedediging asook wetstoepassing moet oplei.
Volgens hom is betrokkenheid by bestaande strukture uiters belangrik en om die erns van die saak in perspektief te plaas het Geldenhuys die plaasaanval- en plaasmoordsyfers bekendgemaak.

 

 

 

“Volgens TLU (Transvaal Landbou Unie) se syfers het daar van 1990 af 4 406 aanvalle plaasgevind en is 1 914 boere vermoor,” het Geldenhuys gesê terwyl hy bygevoeg het dat die aanvalsyfer aansienlik hoër behoort te wees aangesien nie alle aanvalle aangemeld word nie.

 

 

Die syfers vir hierdie jaar skets ‘n hartseer prentjie

 

Tot op 5 September was daar reeds 292 plaasaanvalle en 58 plaasmoorde aangemeld.
In 2016 is 369 plaasaanvalle en 61 moorde aangemeld, wat daarop dui dat daar reeds ‘n aansienlike toename vir 2017 is.

 

 

“Die belangrikste keuse wat ons moet maak, is om nie op te hou bid nie,” meen Geldenhuys.
Dié sentiment is deur Dr Burger beaam, hoewel Burger dit ook duidelik gemaak het dat wetteloosheid nie tot die landelike gebiede beperk is nie.
Burger het die drastiese toename in misdaad op alle gebiede aan die land se politieke onsekerheid toegeskryf.
Hy het verduidelik dat die politieke onsekerheid ook dan ekonomiese en maatskaplike onsekerheid enveiligheidonstabiliteit tot gevolg het.
Die klein bietjie optimisme wat hy aan die dag kon lê, is dat die regerende party later vanjaar ‘n nuwe partyleier verkies en dat dit moontlik tot ‘n verbetering in die handhawing van wet en orde kan lei.
Burger het egter gewaarsku dat boere nie intussen op hul louere kan rus nie, aangesien die polisie reeds hul hande vol het.
“In die laaste dekade het geweldadige protesaksies met amper 500% gestyg. Jaar na jaar styg die vlakke van ongelukkigheid, wat beteken die polisie moet met ‘n verminderde vermoë hierdie toenemende vlakke van geweld hanteer.

 

 

Dit is nie iets wat hulle geskep het nie, maar dit is iets wat hulle op die voorgrond moet bestuur.
Burger het aangedui dat politieke moorde, nes plaasmoorde, ook drasties toeneem en dat al hierdie faktore tot die ongelukkigheid wat tans in die land heers, lei.
Volgens hom was die draaipunt ten opsigte van plaasaanvalle en plaasmoorde gedurende die tydperk van 2011 en 2013.

 

 

“Terwyl die stygingskoers by plaasmoorde meer dramaties is as met gewone misdaad, kan dit nie heeltemal geskei word nie,” het Burger gesê.

 

 

Hy het verduidelik dat roof met verswarende omstandighede in die land sedert 2011-2012 tot Maart 2016 met 31% gestyg het en dat ‘n verdere styging met die bekendmaking van die nuutste misdaadsyfers verwag kan word.
“Huisroof en besigheidsroof is op met 24%. Motorkapings het met 55% toegeneem en oral rondom ons is ernstige geweldsmisdaad besig om te styg.”
Burger bevestig dat moord in die tydperk tussen 1994 tot 2010-2011 met 55% van 26 000 moorde per jaar na ± 15 000 gedaal het en dat daar oor die laaste paar jaar ‘n skokkende styging was.
“In Maart 2016 was daar reeds 18 600 moorde en  projeksies wys ons gaan by 19 000 draai, wat ‘n 20% styging toon.”
“Ons is oral onveilig. U op die plase is waarskynlik meer uitgelewer (meer dramaties) maar dit kan nie van dorpe losgemaak word nie.”
Wat die rol van wetstoepassers aanbetref, het die kenner verduidelik dat elke gemeenskap sy deel moet doen om hardwerkende polisielede op die hande te dra.
“Identifiseer polisielede in die gemeenskap wat die regte gesindheid het en nog wil werk en selfs waar hulle nie die regte gesindheid het nie, beraam planne om hulle betrokke te maak.”
Die argument dat die belastingbetaler die staat verantwoordelik moet hou vir sy veiligheid is nie meer in Suid-Afrika van toepassing nie.

 

 

 

“Selfs ‘n ten volle bemande polisiediens wat doeltreffend  op al sy silinders funksioneer, gaan nie vir my en jou as individu oral en altyd kan beveilig nie.

 

“Ons moet nie in sak en as gaan sit nie. Ons het dit in ons om uit hierdie ellende uit op te staan en met vindingryke oplossings te kom. Ons gaan meer van onsself moet gee as wat ons glo nodig is om te doen.”

 
Schultz het verder klem op kommunikasiestelsels gelê en ook boere aangemoedig om ‘n veilige kamer by wonings aan te bring.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button