Nege swemmers van Dynamo Aquatics het nie minder nie as 18 medaljes tydens die Sasol Nasionale Winterswemkampioenskappe in Sasolburg ingepalm. Heidelberg se swemsensasie Cristopher Strydom het weereens nie teleurgestel nie en vir twee nuwe rekords (50m en 100m rugslag) gesorg.
Dié kampioenskappe het vanaf 24 tot 29 Junie by die Penny Heyns swembad plaasgevind waar Suid-Afrika se topswemmers sake uitgespook het. Die geleentheid vind jaarliks plaas met swemmers van klubs regoor die land, ander Afrika-lande asook besoekende oorsese swemklubs wat hier kom meeding.
Behalwe vir sy twee nuwe rekords, het Cristopher Strydom ook goud in die 200m (individuele wisselslag), 200m rugslag, 50m en 100m vryslag asook die 100m vlinderslag verower.

Jandre Moll het goud in die 50m en 100m vryslag, 50m rugslag, 50m borsslag asook 50m en 100m vlinderslag verower.
Simone Moll spog met goud in die 50m vlinderslag, 50m en 100m borsslag asook 50m vryslag.
Cristopher Strydom, Wilhelm Verwoerd, Huib Sprong en Jayden Barnard het in die 4x50m vryslag aflos nog ‘n goue medalje ingepalm.
Zandre Smook, Andre Sprong en Willem Jan Sprong het ook hul persoonlike beste tye in hul onderskeie items aangeteken.
Dynamo Aquatics het die Winterswemkampioenskappe met ‘n totaal van 1625 punte gewen.
“Ek is trots op my span wat ons naam hoog gehou het. Elkeen van hulle het baie hard vir hul uitstekende prestasies gewerk,” het Thilde de Kock (afrigter) trots gesê.
| Follow us on: | ||
![]() |




