Kinders rol moue op vir boere in Noord-Kaap
Carol du Plessis is ‘n plaaslike vrou vir wie die boeregemeenskap na aan die hart lê.

HEIDELBERG – Carol du Plessis is ‘n plaaslike vrou vir wie die boeregemeenskap na aan die hart lê. Toe sy uitvind dat dit nie net die Noord-Kaap se boere en hul vee is wat swaarkry met die geweldige droogtetoestande wat daar heers nie, maar dat hul huishoudings en werkers ook daaronder ly, het sy ingespring om kos en ander benodigdhede in te samel.
Dit is veral boere in die Namakwa-distrik van die Noord-Kaap wat in 2012 laas goeie reën ontvang het. As gevolg hiervan is die landboutoestande in die area onuithoubaar vir boere, hul kuddes asook hul huishoudings en werkers.
‘n Hele paar boereverenigings uit ander distrikte het die afgelope jaar met tonne voer by die droogtegeteisterde boere opgedaag. Die verenigings se vroue wat hul mans op dié skenkingstogte vergesel het, het spoedig besef dat die boervroue, kinders en werkers geweldig swaar kry.
“Ek het trane in my oë gekry toe ek hoor daar is huishoudings waar daar nie eens tandepaste of ‘n koekie seep is nie. Daar is nie eers fondse vir kos nie, wat nog van die klein goed wat ons almal as vanselfsprekend aanvaar,” het Carol gesê.
Sy het begin deur plaaslike skole en besighede vir skenkings te nader. Groot was haar verwondering toe Mev Loraine van der Merwe (onderhoof) van Heidelberg Public School haar skakel en sê dat leerders sowel as personeel mildelik tot die fondsinsameling met skenkings van kos en toiletware bygedra het.

Carol was aangedaan toe sy die skool op 6 Augustus besoek het en leerders boks op boks (gelaai met nie-bederfbare voedsel) vir haar aandra. Dit was steeds nie die einde nie en Mev Van der Merwe het haar kantoor toe geneem waar nog bokse vol toiletware (wat deur die personeel ingesamel is) op haar gewag het.
Mev Van der Merwe en Mnr Johan Pretorius (hoof) sê die hele skool het geesdriftig tot die projek bygedra toe hulle van die boeregemeenskap se pleidooi hoor.


Carol het ook by plaaslike VLU-takke om hulp aangeklop en die dames het gehoor gegee. Faan Botha (voorsitter) van Bloekomspruit Boerevereniging het ook aangedui dat plaaslike boere by die projek betrokke wil raak.
Carol is in gesprek met Carol Allen van Middelburg (organiseerder van die droogtehulpfonds) sodat Heidelberg se skenkings na die Noord-Kaap vervoer kan word.

Indien jy ‘n bydrae wil maak om die droogtegeteisterde boeregemeenskap van die Noord-Kaap van hulp te wees, kan Carol du Plessis by 083 233 9624 geskakel word.
| Follow us on: | ||
![]() |




