
Kapers is hul buit kwyt nadat die vragmotor wat hulle vanmiddag (28 November) by die Balfour afrit op die N3 gekaap het, etlike minute later onklaar geraak het. Drie gewapende mans in ‘n blou Audi en wit Rangerover het die bestuurder van die vragmotor in die Rangerover gedwing.
Kaptein Thivhulawi Tshilate (woordvoerder) van Heidelberg SAPD sĂȘ die opsporingsmaatskappy het snuf in die neus gekry toe die voertuig met ‘n vrag televisiestelle van sy roete afgewyk het.
Die kapers het die bestuurder op die N3 noord van die Benoni-afrit afgelaai. Intussen het die vragmotor op die Benoni-brug gaan staan en Capital Air asook Heidelberg polisie het op die toneel opgedaag, maar die verdagtes het reeds gevlug.
Die slagoffer het intussen ‘n verkeersbeampte voorgekeer. Sy twee medewerkers wat saam met hom gekaap is, is steeds soek.
Die polisie ondersoek die saak en enigiemand met inligting kan Heidelberg Polisiestasie by 016 341 0343 skakel.



