
Pep rowers:
Die vyf mans wat op 11 Februarie 2016 ná ‘n gewapende roof by Pep Stores in The Angelo Mall vasgetrek is, se saak het op 9 April in Nigel se Streekhof begin, nadat dit om tegniese redes verskeie kere uitgestel is. Hulle het weer op 21 Februarie in die hof verskyn en die saak is tot 11 en 12 November vir verhoor uitgestel, maar op 12 November het van die beskuldigdes ander regsverteenwoordigers versoek en gevolglik is die saak tot 3 Maart 2020 uitgestel.
Drinkwater plaasaanval:
Die man wat daarvan beskuldig word dat hy Hester Drinkwater op 27 Maart 2018 in haar huis by Witkop Plotte aangeval en beroof het, se saak het weer op 13 November in Nigel Streekshof voorgekom. Die ondersoek is egter nog nie afgehandel nie en die saak is tot 14 Januarie 2020 uitgestel, wanneer daar ook getuienis deur ‘n polisie offisier gelewer sal word. Intussen bly die beskuldigde in aanhouding by Nigel Korrektiewe Dienste.
Johan Pretorius moordsaak:
Die 21-jarige man wat in ‘n bekentenis teenoor die polisie erken het dat hy Johan Pretorius op 20 Junie op ‘n plaas buite Nigel vermoor het, het weer op 27 November in Nigel Landdroshof verskyn. Ten einde te bepaal of die verdagte toerekeningsvatbaar sal wees, is hy vir sielkundige evaluasie by ‘n geregistreerde instansie (Weskoppies Hospitaal) verwys, maar aangesien daar nog nie ‘n opening by die genoemde hospitaal is nie, is die saak weer tot 13 Desember uitgestel.



