Reis van Johannesburg na Durban tot 18 ure in 1955
Om die see te kon sien moes reisigers tot 18 ure gery het gedurende 1955.
In die verlede as jy na Durban wou reis moes jy deur Heidelberg ry. Dit het gelei tot groot frustrasie van inwoners, veral gedurende Paasnaweke wanneer al die karre in die hoofstraat verkeersophopings veroorsaak het.
Tot hul verligting was daar ’n ompad om Heidelberg gebou en in ongeveer 1955 oopgemaak tot verkeer.
Alhoewel die pad verkeer deur Heidelberg effens verlig het, moes reisigers steeds deur Greylingstad, Balfour en Standerton ry om in Durban uit te kom.
Die reistyd vanaf Johannesburg na Durban het tussen agt en nege ure geduur, behalwe oor Paasnaweke dan was dit maklik ’n 14 tot 18 ure reis.
Die pad wat regs draai by Luckhoff skool was net vir sowat 10km uit Heidelberg geteer en die res van die pad was grondpad.
Eers in Februarie 1965 was die pad geteer en dit was toe die kortse pad na Durban op ’n teerpad.
Louis Bosman het vertel dat in Desember 1962 was hy ’n student en het die taak gekry om die opmetings en afmerk van waar die teerpad moes loop te gaan doen.
Onder andere moes die pad reg deur ’n boer se vrugteboord loop. Hy het die opmetings gaan doen en toe van die vrugte gepluk en geëet, maar die volgende oomlik moes hulle hadloop, want die boer het hulle verjaag van sy grond af met ’n haelgeweer.
Alhoewel daar in 1961 begin bou is aan die snelweg soos hy nou daar uitsien, is die pad eers in 2001 klaargemaak en oopgestel vir verkeer.
Vandag kan reisigers met gemak die afstand in vyf ure afhandel.
Die berig is geinspireer deur Gerhard du Preez as ’n brokkie nuus vir die nageslag met groot dank aan Ludwig Ankiewicz, Robert Berritt, Tony Burisch, Louis Bosman, Sybrand van der Spuy en Tommy Lamont.



