Solidariteit Helpende Hand het op 15 Maart ’n landswye werkswinkel aangebied oor hoe die gemeenskap en verskeie organisasies saam met Helpende Hand hande kan vat om meer doeltreffende diens aan die gemeenskap te kan lewer.
Die tema was Wil om te Help en die Oosrand se werkswinkel het by Laerskool Jan van Riebeek in Springs plaasgevind.
Verskeie maatskaplike werkers was ook uitgenooi om die werkswinkel by te woon.
Marlene Walkden, maatskaplike werker by die Suikerbos Aftree-oord was deur Frik van Niekerk, voorsitter van Helpende Hand Heidelberg-tak, uitgenooi om teenwoordig te wees.
Sprekers wat die werkswinkel bygewoon het was Hannes Noëth (uitvoerende hoof), Marietha Kemp (direkteur van maatskaplie dienste by die SAVF), Fanie du Toit, Aletta Bosman en Dr Yolinda Steyn.
Van die onderwerpe wat bespreek was het bejaarde persone, gestremdes, kinders en gesinne ingesluit.
Helpende Hand het ’n maand gelede ’n landwye kompetisie geloods om maatskaplike werkers te nomineer waar hulle meer doen in die gemeenskap as wat verwag word.
Die rede hoekom Walkden saam genooi was, was omdat sy een van die nominasies was. Met groot verbasing was Walkden se naam genoem as die wenner en het sy die #Hoopdraer-toekenning vir 2022 ontvang.

Walkden help ook by ander organisasies en is ook een van die hoof spelers in Helpende Hand Heidelberg-tak se Help Hendrik-projek.
Van Niekerk het gesê dat die werkswinkel leersaam was.
“Dit het ons op ’n beter pad geplaas om die gemeenskap beter te help en om ’n meer doelgerigte bate te kan wees.
“Ons sien uit om meer betrokke te raak. Ons wil om te help gaan nie geblus word nie.”



