Egpaar vier 69ste huweliksherdenking
Hulle het die Suikerbos-oord hulle tuiste gemaak, waar hulle vir die afgelope ses jaar woon.
Koos (92) en Lena (88) Brits het op 28 Maart hulle 69ste huweliksherdenking gevier.
Die egpaar het mekaar in 1950 ontmoet by ’n familie verjaarsdagpartytjie terwyl Lena nog op skool in Potchefstroom was en Koos in Nigel gewerk het.
Hulle het op 28 Maart 1953 in Nigel die knoop deurgehaak, waar Lena se oom hulle in die huwelik bevestig het.
Koos en Lena is al vir jare trotse Heidelbergers. Die egpaar het wel vir 17 jaar in Jeffreysbaai gewoon, maar die rustigheid van hul geliefde dorp het hulle terug geroep. Hulle het die Suikerbos-oord hulle tuiste gemaak, waar hulle vir die afgelope ses jaar woon.
Die Brits egpaar is met vier kinders geseën. Daar is ook 12 kleinkinders en 19 agterkleinkinders.
In hul vrye tyd speel Lena graag rolbal by die Heidelberg Rolbalklub. Koos was ook aktief by die rolbalklub betrokke tot Junie.
“Dit is net deur genade dat ons tot nou toe gespaar is. Ons leef elke dag asof dit ’n geskenk van bo is,” het Lena gesê.
“Die getroude lewe is ’n daaglikse lewensles. Leer mekaar elke dag ’n bietjie meer ken. Hoe harder jy aan die huwelik werk, hoe gelukkiger sal dit wees.”



