Heidelberg en Nigel SAJKA vaar uitstekend
Heidelberg en Nigel SAJKA verower armsvol medaljes.
Op 11 en 12 Maart het 61 lede van SAJKA Heidelberg, onder leiding van sensei Bernard Raubenheimer, wat klubs in Heidelberg en Nigel het, aan die Gauteng Provinsiale SAJKA-kampioenskappe en proewe deelgeneem by Ellis Park Arena in Johannesburg.
Die klub het altesaam 42 medaljes (19 goue, agt silwer en 15 brons medaljes) ingepalm in 54 afdelings.
Agt-en-vyftig lede het ook Gauteng-kleure verwerf. Hulle sal op 20 en 21 Mei aan die Nasionale SAJKA-kampioenskappe by Ellispark Arena deelneem.
Die kampioenskappe is een van die grootste nasionale toernooie in die suidelike halfrond met om en by 4 000 inskrywings.

“Ons het laas in 2020 aan die kampioenskappe deelgeneem, en dit wys net hoe vasberaad elke student is om net hulle beste te lewer,” het Raubenheimer gesê.
Hy is al vir 46 jaar by karate betrokke en beskik oor ’n vyfde dan.
Hy is al ’n afrigter sedert 1988. Gedurende sy afrigtings tydperk het Raubenheimer al verskeie swart gordel studente afgerig.
Raubenheimer is ook deur Japan gekwalifiseer as international instrukteur, eksaminator en skeidsregter.
Hy is besig om hom vir sy sesde dan voor te berei, en nege student is ook besig om hulself voor te berei vir hul onderskeie swart gordel graderings in September.

Raubenheimer se SAKJA-klub het die jaar alreeds 35 nuwe lede bygekry.
Daarvolgens moes Raubenheimer ekstra klasse instel om die groei te akkomodeer.
Raubenheimer het gesê: “Die voordele van karate is om ’n persoon se konsentrasie, fiksheid, self-vertroue, koördinasie, fokus, sosiale interaksie, motoriese ontwikkeling en self-verdedigingtegnieke te verbeter. Karate studente word geleer om karate se vyf grondbeginsels, naamlik karakter, opregtheid, inspanning, gedrag en selfbeheersing, uit te leef.
“Alhoewel karate studente aan kampioenskappe deelneem, is die uitsluitlike doel om hulself op te werk en uiteindelik ’n swart gordel te verwerf.”
Die nuwe inname begin op 4 April.

Raubenheimer nooi almal om gebruik te maak van sy spesiale aanbod om die eerste vier klasse gratis by te woon om belangstelling in die sport te toets.
“Heidelberg SAJKA oefen Maandae tot Donderdae by Hoër Volkskool in Heidelberg, asook Maandae en Woensdae by NG Kerk Moedergemeente in Kerkstraat, Nigel.
“Enige person vanaf vyf jaar is welkom om aan te sluit,” het Raubenheimer gesê.
Enige navrae kan gerig word aan Raubenheimer deur 083 489 8231 te skakel.



