Local newsNews

Munisipaliteit gee terugvoering oor afgesnyde bome

Die Stad van Ekurhuleni se Parke afdeling het onderneem om die afgesnyde bome te vervang.

Die Stad van Ekurhuleni se Parke Afdeling het ingestem om die bome by die ingang van Nigel, wat onlangs deur die departement afgesny is, te vervang. (Die HERAUT het daaroor berig op die voorblad van 27 April, Nuwe bome word afgesny).

Die bome is aanvanklik geplant toe die gemeenskap en besighede op 11 September 2021 saam gekom het om sowat 150 inheemse bome by die ingang tot Nigel te plant.

Die bome, waarvan sommige alreeds 1.5m hoog was, is in April maand afgesny.

Dit na die Parke Afdeling alreeds twee maal van tevore die gras by die ingang gesny het sonder om die bome te beskadig.

“Dit is baie demotiverend as dinge net vernietig word, en ons pogings nie waardeer word deur die munisipaliteit nie,” het Santana Pestana, een van die boomplantdag se organiseerders, gesê.

“Voorvalle soos die sal maak dat mense en besighede in die toekoms huiwerig sal wees om weer met die munisipaliteit saam te werk en ‘n verskil te wil maak in die area.”

Die gemeenskap se harde werk is tot niet nadat die bome deur die Parke Afdeling afgesny is.

“Ons as ‘n dorp wou saamstaan,” meen Roché Pepler, wat ook ‘n organiseerder was.

“Al wat ons nodig gehad het was ‘n klein bietjie moeite van die munisipaliteit af om net die gras te sny.”

Nadat DA Raadslid Wollaston Labuschagne self ondersoek ingestel het, het ‘n senior amptenaar van die departement die volgende aan Labuschagne gesê:

“As ‘n afdeling wil ons benadruk dat die voorval betreurenswaardig is,” het die amptenaar per e-pos aangedui.
“Ons het ‘n onderneming aangeneem dat die munisipaliteit die bome wat vernietig is, sal vervang.”

Labuschagne het ook intussen ‘n nuwe projek probeer bewerkstellig.

“Die Gauteng Department of Agriculture and Rural Development (GDARD) gaan binnekort ‘n program in Nigel van stapel stuur genaamd Bontle Ke Botho, waardeur hulle beplan om gedurende die volgende paar maande honderde inheemse en vrugtebome in en om Nigel te plant deur middel van ‘n gemeenskapsprojek,” verduidelik hy.

Die bome wat by die Nigel ingang geplant is, is in April maand afgesny. Foto: Wollaston Labuschagne.

“Ek het reeds met die betrokke amptenare gekommunikeer om ‘n aantal van die bome te reserveer vir die vervanging van die afgekapte en beskadigde bome by Nigel se hoof ingang.

“Al wat ons wil hê is ‘n ordentlike dorp, ‘n plek wat veilig en skoon is, waar ons kan gaan stap en waar ons kinders kan speel,” het Pepler bygevoeg.

“Ons wil ‘n plek van hoop vestig; ‘n plek waar ons voete van buite kan lok.

“My grootste visie is om Nigel Dorp van die Jaar te maak,” het Pepler gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button