Local newsNews

Heidelbergers staan saam vir Bianca

Die fonsinsameling sal ten bate van Bianca Ras se mediese onkostes gehou word.

Die 21-jarige dogter van ‘n bekende haarkapper van die dorp het ernstige beserings opgedoen toe sy op 20 Mei in ‘n ongeluk betrokke was.

Bianca Ras was ’n passasier in ’n voertuig toe die ongeluk net na 22:00 naby Shalimar Ridge plaasgevind. Die jong vrou het veelvuldige beserings opgedoen.

Sy het bloeding op haar brein gehad, haar rug was op twee plekke gebreek en haar linker long het platgeval.
Verder het sy ook sewe ribbes gebreek, haar linker skouer beseer en haar milt is geskeur.

Sy word tans in die Netcare Garden City Clinic in Johannesburg behandel waar sy al verskeie operasies ondergaan het.

Bianca het agt penne in haar rug en spalke aan haar bene om haar bene reguit te maak. Die linkerkant van haar gesig is ook verlam.

Volgens ’n familie vriend, Marinda Herbst, het die neuroloog by Garden City Clinic gesê dat die moontlikheid baie groot is dat Bianca nie weer sal kan loop nie.

Daar is nog verskeie operasies en ‘n lang pad van herstel wat op Bianca wag. Sy sou op 3 Junie ‘n operasie aan haar skouer ondergaan.

Bianca se ma, Charmaine Rossouw, is ‘n bekende in die haarkapperbedryf in Heidelberg.

Charmaine woon tans in ’n plek naby die hospitaal om naby aan Bianca te wees.

“Op die oomblik het Charmaine geen inkomste nie, en die uitgawes stapel by die dag net meer op,” het Herbst gesê.

Daar is soveel wat aangekoop sal moet word om te verseker dat dit vir Bianca makliker gaan wees om oor die weg te kom.

‘n Spesiale mediese bed en ’n rolstoel is hoog op die agenda.

Die voertuig waarin Bianca Ras was tydens die ongeluk. Foto: Verskaf.

“Daar is nog rehabilitasie en verdere behandeling wat voorlê wanneer Bianca ontslaan gaan word en waar die fondse daarvoor vandaan gaan kom weet nugter alleen,” het Herbst bygevoeg.

“Charmaine se woonplek sal ook nie meer geskik wees as gevolg van die nodige veranderings en toeganklikheid nie en sodoende word die stres net meer vir ‘n moeder wat alles vir haar kinders wil doen.”

Charmaine se mediese fonds dek ook nie al die uitgawes nie.

In ‘n poging om fondse in te samel word ‘n sop- en sjerrie-aand vir 15 Junie beplan.

Persone wat die geleentheid wil bywoon of bereid is om op ander wyses te help kan vir Marinda Herbst by 064 755 0394 skakel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button