Nigel SAWV neem deel aan kranslegging
Lede van die Nigel SAWV het ook die geleentheid bygewoon om hulde te bring.
Lede van die Nigel SAWV het op 29 Mei ‘n gedenkdiens van die Raad van Militêre Veterane Organisasies (RMVO) by die SA Weermag Gedenksmuur by die Voortrekkermonument in Pretoria bygewoon.
Tydens die geleentheid kon familielede, politici en verteenwoordigers van verskeie organisasies of eenhede van die weermag kranse neerlê ter nagedagtenis aan die soldate wat tydens die destydse grensoorlog dood is.
Willie Pretorius (86) het namens Eenheid Vlakvark van die SAWV ‘n krans neergelê.
“Dit was ‘n fantastiese dag met reëlings wat met militêre presisie uitgevoer is,” vertel Karel Groesbeek, voorsitter van Eenheid Vlakvark van Nigel.
“Die geleentheid is bygewoon deur militêre attachés van verskillende lande, verskeie afgetreede generaals, politieke leiers, naasbestaandes van gesneuwelde soldate en veterane uit alle weermagdele.
“Daar was selfs kranse neergelê ter nagedagtenis aan die diere, – die honde en perde – wat tydens die oorlog dood is.”
Die Nigel SAWV sal weer op 25 Junie om 14:00 by die Nigel Rolbalklub ‘n byeenkoms hou.





