Local newsNews

‘Meneer’ Izak vier 60 jaar in die onderwys

'Meneer' Izak de Villiers, wat vir jare na sy amptelike aftrede steeds skoolgehou het by Laerskool Tini Vorster gaan die einde van die jaar aftree.

‘Meneer’ Izak de Villiers (81) van Laerskool Tini Vorster, wat vir byna 22 jaar na sy ‘amptelike’ aftrede in 1999 steeds skoolhou, gaan aan die einde van die jaar weer aftree.

De Villiers het op 24 Julie sy 60ste jaar in die onderwys by die skool saam met sy vrou Rosie gevier.

Die skoolhoof, Johan Louwrens, het aan De Villiers ‘n sertifikaat oorhandig.

“Ek het my onderwysloopbaan in 1962 by ‘n klein plaasskool in Noord-Wes genaamd Laerskool Wildehondepan begin, waar ek vir twee kwartale was.

“Hierna het ek ‘n permanente aanstelling by PA Theron in Stilfontein gekry.”

De Villiers se onderwysloopbaan het hom by agt skole in totaal gesien, waarvan hy ook vir ‘n tyd by ‘n skoolkliniek in Roodepoort was.

Die laaste aanstelling voor sy aftrede was by Laerskool Hannes Visagie, waar De Villiers vir amper 12 jaar skoolhoof was.

‘Meneer’ Izak de Villiers kry ‘n handdruk by skoolhoof, Johan Louwrens.

“Kort na my aftrede het Bennie Holm’ner my gebel en gevra of ek net vir een kwartaal kon uithelp,” sê De Villiers.
“Maar een kwartaal het ‘n jaar geword en een jaar het nou al amper 22 jaar geword.”

De Villiers sê sy passie vir onderwys en liefde vir kinders het hom na sy amptelike aftrede in die onderwyserstoel gehou.

“Om ‘n onderwyser te wees moet jy ‘n kunstenaar ook kan wees,” het hy vertel. “Want so kan jy ‘n kind se aandag vasvang en behou.”

Vir De Villiers was dit ook die interaksie met die kinders op die sportgronde wat sy werk vir hom so spesiaal maak.
“Jy leer amper die kinders beter ken met sport,” sê hy.

“Dit is lekker om te sien hoe hulle vorder en ontwikkel as kinders. Ek gaan my kollegas en veral die kinders baie mis.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button