Local newsNews

Leer ons mense ken: Elmarie Eygelaar

Elmarie Eygelaar is veral bekend vir haar betrokkenheid by die VLU Rensburg-tak en die Heidelberg rolbalklub.

Elmarie Eygelaar (63) is ‘n veelsydige vrou van Rensburg in Heidelberg.

Sy is al vir die afgelope 42 jaar getroud met Johan Eygelaar en saam het die egpaar twee kinders en drie kleinkinders.

HERAUT het met haar gesels met die oog op Vrouemaand, om meer oor haar en haar verskeie bedrywighede tewete te kom.

Hoe lank woon julle al in Heidelberg?

Ons het Desember 1980 na Heidelberg verhuis vanaf Pretoria en in Desember 1995 verplaas na Johannesburg. My man het in Augustus 2013 afgetree en ons het terug verhuis na Heidelberg. Ek het in 2015 permanent hier kom bly en Augustus 2017 afgetree.

Van waar kom jy oorspronklik en wat kan jy vertel oor daardie area?

Ek was gebore te Oudtshoorn in die Suid-Wes Kaap. Dit was ‘n heerlike groot word dorp waar ek kaalvoet geloop het en fiets gery het skool toe. Ek was aan Hoërskool Oudtshoorn op skool. Die dorp is deel van die Klein Karoo tussen die Outeniqua en Swartberge met sneeu in die winter. Daar is baie besienswaardigehede soos die volstruisplase, Kango Grotte, Arbeidsgenot en die see anderkant die berg. Die warmwaterbronne by Calitzdorp en die uitsonderlike rooi sandsteen berge is ook besienswaardig.

Vertel ons meer oor jou posisie in die Rensburg VLU? Wat behels dit?

Ek is deel van die VLU Rensburg se bestuur en vul die posisie as tesourier. Dit behels inkomstes en uitgawes en oorbetalings aan die streek met betrekking tot die ledegeld.

Hoekom het jy besluit om by die Rensburg VLU aan te sluit?

Einde Augustus 2017 het ek afgetree en baie tyd op hande gehad toe die vorige voorsitter, Bets Grobler en Trudie Potgieter my gevra het om te kom aansluit. Ek het die geleentheid gebruik om meer van borduurwerk, breiwerk, hekelwerk, masjienwerk, kook, bak, inlê, blomme rangskikkings en plante te leer.

Artikels word ingeskryf om jaarliks aan die konferensie en kongres deel te neem. Elke maand is daar ‘n praatjie oor verskillende studierigtings en oor die skrywer van die jaar (Engels of Afrikaans), boom van die jaar, voël van die jaar, kunstenaar van die jaar en bekende persoonlikhede.

Die VLU reik ook uit na gemeenskappe deur die insameling van noodsaaklike klere, skoene, onderklere en toiletware en na die Noord Kaap se droogte geteisterde gebiede met ‘n skoendoos projek.

Wat maak die tak uniek?

Dames word welkom geheet met elke geleentheid en interressanthede wat gedeel word. Daar word uitgereik na lede en ‘n groep gemeensaamheid vorm. Ons hou saam piekniek, besoek die begraafplaas waar AG Visser begrawe is en leer meer oor historiese geboue in Heidelberg. Ons horisonne word verbreed.

Hoekom sal jy ander vroue aanmoedig om by die VLU aan te sluit?

Die byeenkomste is een maal per maand wat jou kennis verreik, saam gesels met ander waar ouderdom nie saak maak nie. Ons kook, bak en hekel nie net meer nie maar ons reis die wereld oor, leer van fotos neem met selfoon, reflekssiologie en olifante, maroelabome of kremetartbome en seeskilpaaie wat kom eiers lê op die strand.

Jy is ook betrokke by die Heidelberg rolbalklub. Wat maak dit vir jou lekker?

Na my aftrede in 2017 het ek en my man saam begin leer om te speel en afrigting ontvang. Woensdae en Saterdae middae is dit ‘n heerlike ontspannende sport om te beoefen. Om die bal korrek af te lewer na die beste van jou vermoeë is al waaraan jy dink vir daardie vier ure.

Sal jy ander aanmoedig om by die rolbal aan te sluit en hoekom?

Ja. Dit is ‘n ontspannende sport wat jou liggaam buigsaam en soepel hou. Jy speel saam met jou medelede en kan lekker tydens teebreuke kuier en gesels. Daar word aan kompetisies deelgeneem en ons kan ook in die streek ligawedstryde gespeel.

Wat sal jy sê is die beste eienskappe van Heidelberg as gemeenskap?

Heidelberg is ‘n pragtige dorp aan die Suikerbosrand met baie geskiedenis en baie geskiedkundige geboue. Baie beroemdes en bekendes het hier grootgeword soos Nadine en Fanie de Villiers. Dit is ‘n stil dorp met goeie skole, weermag (wat eers die onderwyskollege was) en ‘n gemeenskap wat omgee vir die dorp. Dit is baie naby aan die stad geleë vir spesialis behandeling. Dit het ook uitstekende aftree-oorde vir persone wat wil kom aftree.

Wat is jou boodskap vir die gemeenskap?

Die gemeenskap van die dorp sal moet hande vat en die strate in hul omgewing moet help skoon hou van vullis, alle gebreke, ligte, slaggate en oop elektriese kaste moet rapporteer sodat die dorp tot sy ou glorie kan terug keer. Kom wees deel van Skoon Heidelberg en skenk een uur per week vir jou dorp.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button