Internationale roem wink vir plaaslike model
Internasionale verhoog wag vir Boitumelo.
Boitumelo Wilson, ‘n leerder wat tans in Hoër Volkskool is, beoog om binnekort na die Dominikaanse Republiek te vertrek om Suid-Afrika op die internasionale loopplank te verteenwoordig.
Boitumelo, wat in Graad 10 is, gaan haar land verteenwoordig by die Spectacular Teen Internasionale kompetisie, wat op 17 September plaasvind.
“Ons probeer tans om fondse bymekaar te kry sodat ons kan verseker dat Boitumelo se droom bewaarheid kan word en dat sy aan die kompetisie kan deelneem,” het haar ma Ruth Wilson gesê.
“Die tyd stap aan en ons hoop van harte dat daar barmhartige Samaritane is wat ons kan help.
“Ons glo en vertrou dat deure oopgemaak sal word om die droom te verwesenlik,” het Ruth afgesluit.

“Vandat ek die titel as Miss Spectacular Teen SA 2022 gewen het, het my lewe drasties verander. Ek het so baie gegroei as ‘n persoon en as meisie,” het Boitumelo vertel.
“Ek wil my gemeenskap asook die jeug in die algemeen inspireer in dié wyse dat elke persoon iets van hulle lewe kan maak.
“Moet nie opgee nie, droom groot en streef daarna om jou drome te bereik.”
Sonder finansiële hulp sal dit egter baie moeilik wees vir Boitumelo om SA op die groot verhoog te verteenwoordig.
Persone of besighede wat wil help met die uitgawes kan Ruth Wilson by 073 941 3166 kontak.



