AG Visser se nuwe netbalbane ingewy
Die skool het die splinternuwe netbalbane onlangs ingewy tydens 'n spoggeleentheid.
Die nuwe netbalbane van die Laerskool AG Visser is op 14 Oktober amptelik ingewy.
Al die leerders van die skool het die inwyding saam met die personeel en eregaste meegemaak.
Die verwelkoming is deur Fransien Fraser gedoen.
“Hou vas aan jou geloof en moet nie afwyk nie. Dit gaan hand aan hand met sukses.
“Samewerking is baie belangrik om sukses te behaal, nie net op die sportveld nie maar in die alledaagse lewe ook,” was Fraser se boodskap.
Die hoofdogter, Janke Gerber, het gesê die skool het uit hulle pad gaan om te verseker dat die leerders die beste geriewe kry en dat die leerders dankbaar daarvoor is.
Die kaptein van Vissies se eerste netbalspan, Mieke Mouton het vertel dat sy reeds netbal speel vandat sy ses jaar oud is.
“Om die nuwe netbalbane te sien en daarop te kan speel is verseker ‘n hoogtepunt in my skool loopbaan,” het sy gesê.
“Vanjaar het ons netbalspanne hulself uiters goed van hulle taak gekwyt. Al ons netbalspanne, van o10 tot o13 was liga wenners.
“Ons is baie trots op wat ons netbalspanne die jaar kon vermag.”
Die skoolhoof van AG Visser, Selma Marx, het die borge bedank vir die geloof en bereidwilligheid om by te dra tot die nuwe die netbalbane.
“Daar was so baie mense wat agter die skerms gewerk het om te verseker dat die nuwe netbalbane ‘n werklikheid kan word.”
“Tradisies is baie belangrik en netbal en netbalsterre is deel van ons tradisie.
“Ons hou vas aan ons tradisies en glo en vertrou dat ons waardes gesien kan word in al ons leerlinge,” het Marx gesê.
Die netbalbane se hoofborg is Elize en Marius Res.







