Nigel VLU skop jaar op hoë noot af
Die vroue het hul eerste vergadering van die jaar met ywer aangepak.
Nigel VLU het op 12 Januarie hul eerste vergadering van die jaar gehou.
Die tak se voormalige voorsitter, Ronel Lombaard het haar laaste vergadering as voorsitter waargeneem.
“Baie dankie vir 13 jaar,” het Lombaard gesê.
“Ek lê nou die amp neer en oorhandig die tak aan Anna-Marie Axer. Julle is in goeie hande,” het sy bygevoeg.
Lombaard, wat haarself nou as streekvoorsitter verkiesbaar sal maak, meen sy gaan steeds ‘n lid van die tak bly en sal die vergaderings vanaf ‘n ander oogpunt bywoon.
“Hoe sê ‘n mens dankie vir 13 jaar?” het Axer gesê.
“Ronel, jy is goud werd. Dankie vir alles wat jy vir die tak gedoen het.”

Tydens die vergadering het die tak ook eer betoon aan een van hul lede, Frikkie Oosthuizen wat onlangs oorlede is. Lettie Roos het vir haar ‘n kers aangesteek.
Tonien Botha het die tak meer vertel oor die kunstenaar van die jaar, Armand Aucamp.
Die gasvrou, Mary-Lynn Jeffrey het op haar beurt die lede meer oor die persoonlikheid van die jaar, Tatjana Schoenmaker vertel.
Die gassprekers, Roché Pepler en Santana Pestana van Earth Owl, het hul strewe om ‘n verskil in die gemeenskap te maak met die vroue gedeel.

Dié twee vroue het reeds verskeie gemeenskapsprojekte van stapel gestuur om ander te inspireer om meer volhoubaar te wees. Van skoonmaak projekte tot boomplantdae fokus Earth Owl daarop om ‘n verskil in ander se lewens te maak en iets na te laat vir toekomstige geslagte.
Na die vergadering kon die tak soos oudergewoonte saam kuier.
Die tak se volgende vergadering sal op 9 Februarie plaasvind.
Vir meer inligting of om by die tak aan te sluit, kontak Axer by 082 886 2002.



