Local newsNews

Swemmer (85) deel wyse raad

Sarel Naudé (85) het op die ouderdom van 70 met erns begin swem en geniet dit nog al die pad.

HEIDELBERG – Sarel Naudé (85) het op 16 Maart tydens die SA Meesters Swemkampioenskappe in Nelspruit ‘n silwer medalje ingepalm.

Sarel het in die mans vryslag 400m afdeling deelgeneem. Hy sou ook in die 800m item deelneem, maar weens onvoorsiene omstandighede het dit nie gerealiseer nie.

Die HERAUT het met hom en sy vrou Mara Naudé (79) gesels om meer oor sy liefde vir swem uit te vind.

“Ek het eers met erns op die ouderdom van 70 begin swem nadat ‘n kardioloog vir my uitgewys het dat my hartspier besig was om te verswak,” het Sarel vertel.

“Ek met die raad en hulp van Tilda Victor, ‘n biokinetikus en ‘n program wat sy vir my uitgewerk het, begin swem en aan tweekamp deelgeneem.”

Sarel meen dat swem een van die beste maniere is om die hartspier te oefen en sterk te hou.

“By die SA meesters kampioenskappe neem ‘n persoon in ouderdomsgroepe deel,” het Sarel verduidelik.

“Ek het in die ouderdomsklas 85 tot 89 deelgeneem. Dit was vir my ‘n aangename ondervinding om die silwer medalje te kon wen,” het Sarel gesê.

“Maar vir my gaan dit nie oor wen of verloor of hoe vinnig ek swem nie, dit gaan oor of ek klaarmaak.”

Mara meen dat sy asook die familie en vriende hom ondersteun en aanmoedig wanneer hy swem. Sy het ook haar man se volharding en die voorbeeld wat hy vir almal stel geloof.


LEES OOK: Heidelberg en Nigel se dagboek


Sarel hoop ook dat hy sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders sal inspireer met sy swemmery.

“Mens se werk op aarde is nooit klaar nie,” het Sarel gesê.

“Dit is ons plig om deur die genade wat aan ons gegee is, Jesus se werk op aarde klaar te maak, hoe ‘n mens dit ook al doen. Dit is deur Sy genade wat ek nog hier is en nog ‘n voorbeeld kan stel.

“Ek hoop ook ter harte dat ander mense geïnspireer sal word, dat ek vir hulle hoop sal kan gee deurdat dit nooit te laat is om iets te begin nie.

“Moet nie dat die lewe se omstandighede jou laat dink dat jy niks is nie. Mens is nooit te oud om iets te begin nie.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button