Reuse brulpadda kuier kortstondig by DBV
Die reuse brulpadda het kort na sy besoek vertrek om heel moontlik sy ‘nooi in die vlei’ te gaan soek.
Een van Heidelberg se gewilde brulpaddas het vir een aand by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Retiefstraat gaan opsit en toe vertrek om heel moontlik sy ‘nooi in die vlei’ te gaan soek.
Heidelberg is bekend vir die groot brulpaddas wat na swaar reënbuie gewoonlik tussen November en Januarie hul opwagting maak in hul habitat area in Stasiestraat, Rensburg.
Een van die reuse brulpaddas het op 7 Januarie ‘n draai by die DBV in Retiefstraat gemaak vir ‘n kort besoek. Gelukkig was die personeel betyds om ‘n foto te neem voordat die besoeker vertrek het.
Bewaringsbewustes en Heidelbergers is in afwagting vir die groot brulpaddas wat gewild is daarvoor om in Stasiestraat uit te broei.
Volgens die Trust vir Bedreigde Natuurlewe word die reuse brulpadda as ‘n ‘naby-bedreigde’ spesie in Suid-Afrika gelys.
Die habitat van die reuse brulpaddas van Heidelberg, in Stasiestraat was voorheen bedreig weens ‘n nywerheidsontwikkeling wat deur die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LLM) in Uitb 24, die presiese habitat gebied van hierdie paddas, voorgestel was.
In Junie 2024 het die Nasionale Raad van DBV egter in ‘n verklaring gesê dat die habitat area bewaar sal word en die ontwikkeling nie op die habitat area sal plaasvind nie. Die HERAUT het volledig hieroor berig in die uitgawe van 1 Julie 2024 (Community wins the bullfrog battle).
LEES OOK: Neighbours alert SAPS to murder
LEES OOK: New arts initiative launched in Heidelberg



