Heidelberger behaal 10 onderskeidings met 100% vir wiskunde
Hy hou daarvan om gereeld te draf en skuif ook graag agter die klavier in.

Die vreugdevure brand hoog in die Wessels gesin van Overkruin se woning sedert die 2024 matriek uitslae bekendgemaak is.
Ian Wessels (18) het aan die Leeuwenhof Akademie, Bedfordview gematrikuleer waar hy 10 onderskeiding behaal het en ook bykans die onmoontlike vermag het deur 100% vir wiskunde te kry.
Ian was sedert Graad Een verbonde aan Leeuwenhof en sy ma, Karen Wessels het aan die HERAUT vertel dat sy gesin ongelooflik trots op hom is.
“Ian het nie verwag om soveel onderskeidings te behaal nie en hy het selfs vir my gesê dat hy effens oor die Afrikaanse- en geografie vraestelle bekommerd was,” het Karen vertel.
Volgens haar is Ian nie ‘n persoon wat ure en ure agter die boeke deurgebring het nie.
“Hy het seker gemaak dat hy oplet in die klas en sodoende die werk kon verstaan en baasraak,” het Karen gesê.
“Wanneer dit nodig was, het hy egter tyd agter sy boeke deurgebring. Hy het baie vraestelle deurgewerk ter voorbereiding van die matriekeksamen,” het Karen vertel.
Ian het onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels, wiskunde, geografie, fisiese wetenskap, rekeningkunde lewenswetenskap, lewensoriëntering, verdere studies wiskunde (calculus en algebra), verdere studies wiskunde (statistiek).
Hy hou daarvan om gereeld te draf en skuif ook graag agter die klavier in. Dié slimkop gaan aktuarieel aan Wits studeer.
LEES OOK: Vossies doen dit weer met 100% slaagsyfer
LEES OOK: Laerskool AG Visser se nuwelinge pak die bul by die horings