Prontuit: Van China tot Heidelberg, inwoner maak ‘n verskil
In 2018 het sy na China gegaan en daar vir vyf jaar gebly en gewerk waar sy vir die kinders Engels geleer het. Met die Covid pandemie wat in 2020 uitgebreek het, kon sy nie huis toe kom nie.

In die soeke om die gemeenskap te leer ken, het HERAUT Hesmarie West (37) ontmoet wat sorg dat vele mense in Heidelberg by hulle bestemming kan uitkom deur ‘Wheels for Anything’.
Hierdie konsep was gebore in China nadat sy daar vasgekeer was na die pandemie. Hesmarie woon sedert 2013 in Heidelberg.
Sy het in 2005 in Balfour, Mpumalanga gematrikuleer en na skool by Grootvlei Kragstasie gewerk.
In 2018 het sy na China gegaan en daar vir vyf jaar gebly en gewerk waar sy vir die kinders Engels geleer het. Met die Covid pandemie wat in 2020 uitgebreek het, kon sy nie huis toe kom nie.
“Ek het my ouers baie gemis en in 2023 kon ek uiteindelik terugkom,” het Hesmarie vertel, wat nou vir 18 maande terug is by haar huis in Heidelberg.
Sy het vertel van die groot nood aan betroubare en veilige vervoer in China en die ‘Wheels for Anything’ konsep wat sy daar begin het.
“Ek het Wheels for Anything begin in China maar moes die besigheid sluit as gevolg van Covid. Terug in Suid-Afrika het ek besef dat dieselfde nood vir betroubare en veilige vervoer steeds bestaan, veral in Heidelberg,” het sy vertel.
In Junie 2024 het sy Wheels for Anything ‘n nuwe baadjie gegee as Practical Assistance. Behalwe vir ‘n veilige pendeldiens, is Practical Assistance die praktiese hulp en ekstra hande wanneer jy dit die nodigste het.
Van bagasie dra, hulp met mobiliteit, ‘n rit lughawe toe of inkopies doen.
“Alhoewel dit my besigheid is, het ek ‘n voltydse werk. Antonette Ungerer is my betroubare bestuurder wat alles hanteer. Ek kan nie Practical Assistance sien sonder haar nie,” het Hesmarie gesê.
Sy het bygevoeg dat Jacques en Daleen Vorster ook help met die diens asook haar ouers Dawie en Petro Kriel.
“Ons hou daarvan om dinge vir ons gemeenskap te doen. Ons familie is jaarliks deel van die Kruistog en het by die laaste Kruistog in November koue water en lekkers uitgedeel.
“Ons gee ook graag koekies vir die oumense by die aftree oorde,” het sy vertel.
Vir Hesmarie is dit belangrik dat kinders en oumense nie hoef te sukkel om te kom waar hul moet wees nie. Vir eers was hulle haar teikenmark, maar die diens het vining versprei en deesdae ry hulle mense orals heen.
Vanaf OR Tambo Lughawe tot Potchefstroom. Hulle help ook ses tannies van die aftree oord om hul weeklikse inkopies te gaan doen en doen soms self die inkopies namens die inwoners. Hulle het ook al honde vervoer en gaan aflaai by hul bestemming.
Hesmarie en haar span het ook vanjaar ingeskakel by ‘n naskool sentrum om te sorg dat kinders veilig na en terug vervoer word vir hul skool of buitemuurse aktiwiteite.
Sy het ‘n paar interessante insidente gedeel en vertel hulle geniet die kliënte baie en het nog net goeie dinge beleef.
“Dit is belangrik dat ons kliënte gemaklik voel die oomblik as hulle in die motor klim. Ons laat hulle gerus en veilig voel en gesels saam as hulle gesels.
LEES OOK: Volkskool top presteerder skryf nege onderskeidings los
“As hulle iets vier, is ons saam trots, as hulle ‘n slegte dag gehad het, is ons daar om te troos. Dit is soos een groot familie,” het sy vertel.
Hesmarie het ‘n passie om mense te help. Sy hou nie daarvan om te sien dat mense swaarkry nie en as sy ‘n gewillige oor kan gee, iets om te eet of ‘n soetigheid om te bederf, doen sy dit.
Haar ander passie is diere en die natuur. Sy kon nie haar kat-kinders agterlaat nie en het twee van haar katte vanaf China saam huis toe gebring.
Hesmarie is ‘n trotse inwoner van Heidelberg en afgesluit met die boodskap: “Ons het ‘n pragtige dorp en moet dit oppas. Ons moet mekaar liefhê en help. As ons elke dag glimlag vir mekaar, sal die wêreld saam glimlag.
“As ons mekaar kan help en ondersteun, sal ons ver kom. Heidelberg is ‘n dorp met baie potensiaal en klein besighede. Ons moet mekaar ondersteun want elke klein besigheid is iemand se bestaan.”
LEES OOK: Heidelberger behaal 10 onderskeidings met 100% vir wiskunde