Nigel landdros sluit ’n indrukwekkende loopbaan van 43 jaar af
Met ’n loopbaan wat in 1982 begin het, sluit Voogt sy dekades van diens aan die geregtelike stelsel af.
NIGEL – Na byna 43 jaar in die Suid-Afrikaanse regstelsel het Juan Voogt (60), landdros van Nigel, onlangs afgetree.
Voordat hy as landdros aangestel is het Voogt in 1982 as hofklerk in die justisie-afdeling gedien, waarna hy in 1984 tot staatsaanklaer bevorder is.
In 1991 is Voogt verder bevorder tot landdros in Zeerust. Sy volgende aanstelling was in 1993 waar hy as landdros in Petrus Steyn gedien het tot 1999. Daar was Voogt ook die kantoorhoof.
Voogt is daarna oorgeplaas na Nigel. Hier is hy aangestel as die streekslanddros, in die pos waarin hy aangebly het tot sy aftrede.
Voogt het sy regskwalifikasies aan Unisa verwerf en is ook ‘n toegelate prokureur op die Suid-Afrikaanse regsrol, alhoewel hy nie tans as prokureur praktiseer nie.
In sy vrye tyd, waarvan hy nou meer sal hê, geniet hy diepseehengel en lees. Tydens die geleentheid om sy aftrede te vier het verskeie mense eer gebring aan dié geliefde landdros.

Die streekshofpresident, Modibedi Djaje, het Voogt geloof vir sy diens in Suid-Afrikaanse regstelsel.
“Daar is geen twyfel dat Juan die regstelsel met onderskeiding gedien het nie. Hy het nooit gekla of verskonings gebruik nie. Juan was altyd positief en het die werk altyd eerste gestel,” het Djaje gesê.
“Daar was baie opofferings gedoen om te verseker dat die reg altyd sy gang gaan. Ons gaan soveel armer wees met Juan wat nie meer deel van die regstelsel is nie,” het Djaje bygevoeg.
Deur die toesprake was dit duidelik dat menige persoon ’n sagte plek vir Voogt gehad het.
LEES OOK: WATCH: Taps run dry in Mackenzieville: A community pushed to the edge
Daar was ook verskeie kere verwys na sy sagte hart en sin van humor en dat Voogt nie gehuiwer het om vir ander ‘n streep te trek nie.
Voogt, wat sy 61ste verjaarsdag in Desember sal vier, het sy afskeidsfunksie afgesluit deur almal te bedank wat die dag spesiaal vir hom gemaak het.
“Om suksesvol te wees moet almal saamwerk. Sodra jy iets op jou eie wil doen gaan jy sukkel en nie vermag waarvoor jy werk nie,” het hy gesê.
“Om dit te vermag moet almal saam as ‘n span werk en so kan elkeen hul eie doelwitte bereik. Om ‘n bate in die werkplek te wees moenie dink jy is beter as ander nie. Wees nederig, sonder weerga en moet nooit dink jy is beter as ander nie.
“Elke persoon wat oor jou lewenspad kom is ‘n belangrike deel van jou toekoms en sukses,” het Voogt mee afgesluit.





