Plaaslike karate kampioenskappe lok groot belangstelling
Top karate toernooi sorg vir skouspel.
Sensei Bernard Raubenheimer Dojo’s (Heidelberg en Nigel) het hul jaarlikse karate kampioenskappe in Heidelberg aangebied.
Die toernooi het by die Hoër Volkskool plaasgevind.
Klubs van Heidelberg, Nigel, Vereeniging, Meyerton, Alberton, Villiers, Pretoria, Bassonia, Suid-Johannesburg, Benoni, Brakpan, Randburg en Krugersdorp het deelgeneem. Dit het ook verskeie provinsiale en nasionale kampioene ingesluit.

Heidelberg en Nigel het 91 deelnemers ingeskryf. Die beste plaaslike deelnemers was Matteo Res (goud kata en silwer kumite) van Heidelberg Dojo wat as beste seuns deelnemer aangewys is en Jolene Grobler van Heidelberg Dojo`s is as beste meisies deelnemer aangewys (goud in beide afdelings).
Benoni het die span kata trofee en Heidelberg het die span kumite trofee gewen.
Sensei Bernard Raubenheimer Dojo`s het 43 goue, 47 silwer en 58 brons medaljes ingepalm.

Die kampioenskappe was 48 jaar gelede deur sensei Dries la Grange begin.
Dit was oorspronklik ‘n klubkampioenskap wat bekend gestaan het as Sensei Dries la Grange Memorial Championship om sy nagedagtenis te herdenk.
Sedertdien het die kampioenskap gegroei tot een van die grootste kampioenskappe wat provinsiale en nasionale kompetisies uitsluit.

Die toernooi het meer as 200 deelnemers gehad wat in 85 verskillende afdelings ingeskryf het. Daar was oor die 400 inskrywings in die kata en kumite afdelings.
Deelnemers het die Dinkies (voorskoolse karateka) tot 4de Dan swart gordels ingesluit.
Twee van Suid Afrika se top instrukteurs, sensei Bruce Smith (7de Dan) en sensei Earl Opperman (6de Dan), het onder andere as skeidsregters opgetree.

Verskeie van Suid-Afrika se top skeidsregters het hulself beskikbaar gestel om die kampioenskappe te beoordeel.
Daniel Ross van Sensei Mark Wainman Dojo (Sandringham) was as beste mansdeelnemer aangewys. Ross het goud in die kumite en silwer in die mans-ope afdelings gewen.
Tarien Prinsloo van Syndicate Area (Randburg – Vereeniging) was as beste vroue deelnemer aangewys. Prinsloo het in die swart gordel ope vroue kata en kumite afdelings deelgeneem en het goud in beide gewen.

Sensei Bernard Dojo`s is besig om vir hulle finale gradering wat vanaf 5 tot 8 Desember plaasvind, voor te berei.
Op 10 Desember hou die klub hul jaarlikse fiksheidskompetisie en prysuitdeling.
Die klubs heropen weer op 11 Januarie. Belangstellendes kan sensei Bernard by 083 489 8231 kontak.



