Nog twee skoupampoene vir Bester
Cornelius Bester het die afgelope naweek in Noordwes sy groot pampoen geskou.
Cornelius Bester van Rensburg het met sy nuutgegroeide skoupampoen op 11 Maart by die Groot Pampoenfees by Rysmierbult in Noordwes spog.
Bester skou dié jaar weer met die Dills Atlantic Giant variant.
“Ek is bevoorreg om by Wykus Lampreg van Meyerton te kon pitte kry,” het Bester gesê.
“Wykus is die huidige Goliat van Gat wenner en sy pampoen wat sowat 846kg geweeg het, is nou my pampoen se ma.”
Bester se Atlantic Giant pampoen wat hy by die skou sal inskryf, weeg sowat 400kg met ‘n omtrek van 307cm.
“Dit is maar altyd ‘n waagstuk met die pampoene,” vertel Bester.
“Mens moet soveel faktore in ag neem en vandat die saad geplant is en die vrug bestuif is, is dit harde werk.”
Bester meen hy het soggens reeds voor sonop sy pampoene versorg en tot na donker in die aande was hy nog daarmee besig.

Hy moes selfs ‘n spesiale skadunet opsit om die pampoene te beskerm.
“My ander pampoen sal by ‘n lekker kleindorpie skou in Vrede geskou word,” sê hy.
“Dié een weeg om en by 190kg.”
Bester sê die hele proses, van saad tot skou, bly vir hom lekker.
“Dit is lekker om te sien hoe die plant begin vorm en dan na bevrugting, hoe die vrug en ook later die pampoen groei,” het hy verduidelik.
“Dit is ‘n goeie manier om ‘n mens se kop skoon te hou en ook om mens besig te hou.”
Bester het tydens die skou op Rysmierbult eerste gekom met sy pampoen wat 428kg geweeg het.





