Local news

Tuiste sê dankie vir halwe eeu

Die Nigel Tuiste vir Bejaardes sal op 25 Maart hul verjaardagvieringe op die perseel hou.

Die Nigel Tuiste vir Bejaardes het op 17 Februarie amptelik hul 50ste bestaansjaar gevier.

Vanjaar kyk die tuiste terug op ‘n halwe eeu van dienslewering.

Die tuiste is in 1969 in erwe aangekoop waarvan die bouwerk vroeg in 1972, onder toesig van die Barmhartigheidsdiens van die Nederduits Gereformeerde Kerk, begin is.

Die eerste inwoners van die tuiste is op 1 November 1972 opgeneem, waarna die tuiste amptelik op 17 Februarie 1973 in gebruik geneem is.

“Die 50 jaar viering is ‘n besondere mylpaal, waarvoor personeel en bestuur baie dankbaar is,” het Pieter Smit, die tuiste se bestuurder, gesê.

“Dit was werklikwaar 50 jaar van genade.”

Hannie Bosman (agter) wat al vir 37 jaar by die tuiste werksaam is met die tuiste se oudste inwoners, Annetjie Underhorst (99), Bertus van Vuuren (97) en Sarie Coetzer (97).

Die tuiste spog dat hulle sedert 1972 deur die jare kon groei om na die bejaardes van die dorp om te sien. Vandag huisves die tuiste sowat 66 inwoners.

“Dit sou nie moontlik wees as dit nie was vir die toewyding, visie en dapper geloof van bestuursrade, bestuurders en senior personeel wat telkens nuwe uitbreidings aangepak en deurgevoer het nie,” sê Smit.

“Ons wil met hierdie viering dankbare erkenning verleen aan elke persoon wat deur die jare by sulke uitbreidings en besluite betrokke was. Hulle hande was sterk gemaak deur die hulp en donasies van verskeie indiwidue en instansies, wat deur die jare bygedra het.

“Hierdie tuiste is eintlik ’n monument van welwillendheid en samewerking van die gemeenskap van Nigel.

“Ons grootste dank gaan egter aan ons Hemelse Vader, wat daagliks in elke behoefte voorsien en op soveel maniere en op verskillende terreine leiding gee en mense instaat stel om Sy wil uit te voer,” sê Smit ter afsluiting.

Die tuiste se personeel is trots om deel van die mylpaal te wees.

“Die besondere ondersteuning van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid Afrika en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling deur die jare, word ook opreg waardeer.

“Dit is met groot opgewondenheid wat ons vorentoe kyk na die volgende 50 jaar om te sien wat die Here vir ons ingedagte het.

“Mag die Tuiste vir Bejaardes Nigel in die jare wat kom ’n welkome heenkome word vir menige nuwe inwoners, en mag dit ’n plek wees waar bejaardes vreugde en geluk vind in die later jare van hulle tyd hier op aarde.”

Verskeie vorige personeellede, bestuurslede en senior personeel het ook hul gelukwense vir die mylpaal oorgedra.

“Ek wil baie geluk sê aan al die vorige bestuurders, bestuursraadslede, huidige betuurder en senior personeel vir die afgelope 50 jaar,” het Hannie Bosman, wat sedert 1986 by die Tuiste werk, gesê.

“Almal het bygedra dat die tuiste van krag tot krag kon groei. Dit is met groot dank aan ons Hemelse Vader dat hy my 37 jaar terug hierheen gelei het.

“Dit is nogsteeds net ‘n groot voorreg om nog deel te kan wees van die tuiste familie.”

Pieter Smit (bestuurder), Ds Samie Pienaar (bestuursraadvoorsitter), en Ds Chris Engelbrecht (voormalige bestuurder) saam met Hannie Bosman (administratiewe bestuurder) en Ina Hoogewoning (voormalige bestuurder).

Die tuiste se voormalige inrigtingshoof asook eerste matrone, Mercia Combrink, het ook haar gedagtes oorgedra.

“Baie geluk met die groot mylpaal van 50 jaar. Die aftreeoord se naam is Goue Jare en nou is die tuiste ook in sy goue jare.

“Mag julle kwaliteit van versorging van ons senior burgers van krag tot krag gaan.”

Ds Chris Engelbrecht, wat vanaf 2001 tot 2017 die tuiste bedien het, het gesê dit was vir hom ‘n aangename voorreg om vir 16 jaar by die Tuiste van Bejaardes as bestuurder te kon dien.

Die Tuiste vir Bejaardes sal op 25 Maart vanjaar hul verjaardagvieringe op die tuisste se perseel hou.

Die verrigtinge sal om 09:30 vir 10:00 begin.

Vir meer inligting kan belangstellendes vir Theresa Scholtz by 082 321 7067 kontak.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button