Top afrigter kweek hoogspring talent
Atlete streef na nuwe hoogtes onder bekwame leiding.
Wanneer dit kom by hoogspring is daar nie veel wat jy vir die gesoute afrigter Henning Snyman kan leer nie.
Snyman rig onder andere tans drie hoogspring atlete af, wat die afgelope tyd na verskeie Atletiek Suid-Afrika (ASA) finale kampioenskappe deurgedring het.

Kaspian Rooseboom (o10) se beste hoogte vir die huidige seisoen is 1.45m.
Kaspian het met goeie hoogtes en uitslae deur die seisoen gevorder tot die Sassa Atletiekkampioenskappe wat onlangs in Pietermaritzburg plaasgevind het. Hy het ‘n negende plek behaal.

Die jong atleet se volgende mikpunt is om 1.5m te kan spring.
Dané Albrecht (o15, Heidelberg Klub) se persoonlike beste hoogte is 1.55m.
Dané het deurgedring na ASA se jeug kampioenskappe waar sy ‘n negende plek behaal het.

Sy hoop om binnekort 1.6m te kan spring.
Anjo Swart (o18) 1.87m lank en sy persoonlike beste hoogte is 1.98m.
Anjo werk daaraan om die hoogspringlat op die twee meter merk aan te durf.

Henning Snyman is vir etlike jare ‘n gesoute hoogspring afrigter en het al verskeie Suid-Afrikaanse hoogspring sterre in die verlede afgerig.
“Ek sien ‘n blink toekoms vir hierdie drie atlete en met toewyding en uithouvermoë sal nuwe hoogtes beslis binne hulle bereik wees,” het Snyman gesê.
Diegene wat hul hoogspring talent wil ontwikkel kan vir Snyman kontak by 084 510 5072.




